Bloemhof se eerste netbalspan het die afgelope naweek uitgeblink deur ’n vierde plek te behaal in die SA Nasionale hoërskole-kompetisie wat in Boksburg plaasgevind het.
Hulle het meegeding teen 23 ander o.19-spanne wat in die provinsiale uitdunrondes presteer het.
Vooraf is voorspel dat een van die Gautengskole as kampioen gekroon sal word, want Afrikaans Hoër Meisieskool, Menlopark, Eldoraigne en Garsfontein het almal oorwinningsbeurte gehad in hulle plaaslike kompetisies.
Dit was die eerste keer ooit dat ’n eerste span van Bloemhof aan die finale rondes van netbal-topskole deelneem. Hulle het puik gevaar in hulle groepwedstryde en deurgedring na die finale agt beste spanne.
In ’n baie spannende kwarteindstryd Saterdagaand kon Bloemhof met koelkopnetbal daarin slaag om die sterk span van Garsfontein met 22 – 20 te klop.
In die semifinaal moes Bloemhof die knie buig teen ’n begeesterde span van Eldoraigne, wat vir Elsje Jordaan, nuutaangestelde Protea-afrigter, in hulle afrigtingspaneel het. In die ander semifinaal kon Menlopark, tans die Gautengkampioene, eers in ekstra tyd daarin slaag om vir Affies te klop.
Bloemhof, wat deur Leonie Malherbe afgerig word, het in hulle laaste wedstryd van die toernooi teen Affies egter bewys dat hulle nooit onderskat kan word nie. AHMS het die vorige naweek al die Gautengspanne geklop in die Coke-toernooi in Potchefstroom en het vroeg in die wedstryd die voortou geneem.
Bloemhof het egter teruggeveg en met die aanvang van die laaste kwart was die telling slegs 17 – 15 in die Gautengers se guns. ’n Wipplankstryd het die toeskouers getrakteer op netbal uit die boonste rakke.
Eers in die laaste vyf minute van die wedstryd kon AHMS uiteindelik daarin slaag om met hulle fisies langer en sterker verdedigende kant die ratse en uitgeslape Bloemhoffers tot oorgawe te dwing. Die finale telling was 24 – 17.
In die finaal het Menlopark vir Eldoraigne met 28 – 20 geklop om as die beste skolespan in SA gekroon te word. Garsfontein was vyfde in die kompetisie.
Bloemhof het die beste gevaar van al die Wes-Kaap-netbalspanne wat deelgeneem het aan die toernooi. Stellenberg het ’n agtste plek behaal en De Kuilen was agttiende. Die uitblinkers in Bloemhof se span was die verdedigers, Roné Carstens (kaptein) en Alita de Villiers. Nadia van Blommestein het op senter beïndruk en Madine Dercksen, wat doel en hulpdoel gespeel het, was ’n steunpilaar op die aanval.
Die jonger spanne van Bloemhof het ’n sterk boodskap gelaat dat die skool in die toekoms by kompetisies gereken moet word. Die o.16-span, wat afgerig word deur Rése Hugo, het ’n uitstekende tweede plek behaal nadat Rustenburg hulle in die finaal geklop het. Paarl Gimnasium was in die derde plek.
Bloemhof se o.17- en o.14-spanne het ook die Wes-Kaap by die toernooi verteenwoordig en het albei 13de geëindig. Die o.15-spanne se topskole-kompetisie word eers later vandeesmaand as deel van die Kay Motsepe- toernooi gehou.