Van links is Betti Erasmus (spanbestuurder), Carisa Liebenberg, Carli Kruger, Anandie de Waal, Milla Kotze, Megan Gibbs (kaptein), Nina van Eeden, Petá Kruger, Carine Comerma (tennisbestuurder) en afrigter Pascal Guebert van die Edge Tennis Academy.Foto: Gerhardus Bosch


Die Hoër Meisieskool Bloemhof is vanjaar die naaswenner in die ITEC Amanda Coetzer-tennistoernooi nadat hulle in die eindronde deur die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje 1-5 geklop is. Die Stellenbossers was die verdedigende kampioen.

Die toernooi het van Woensdag 11 tot Saterdag 14 Mei by die Meisieskool Oranje in Bloemfontein plaasgevind. Al moes die Bloemhoffers sonder die trofee terugkom, was dit steeds ’n positiewe ervaring.

“Ons is baie trots op ons spelers, want dié jong span het uitstekende deursettingsvermoë getoon en hulle nie deur sterk kompetisie van Girls’ High en Rhenish laat onderkry nie,” sê Carine Comerma, Bloemhof se tennisbestuurder.

Die span maak skoonskip in hul eerste wedstryde en klop beide die Hoërskool Menlopark en Afrikaanse Hoër Meisieskool 7-0 voordat hulle 4-3 teen die HMS Paarl en daarna, in die halfeindronde, ook 4-3 teen Rhenish Girls’ High School seëvier.

In die eindronde het die gasvroue egter die oorhand en voordat al die enkels gespeel kon word, lig Oranje die trofee.

Dit was die tweede van drie kragmetings tussen dié twee spanne vanjaar. Bloemhof en Oranje sal mekaar weer in Augustus tydens die interskole – die eerste sedert 2019 – op die tennisbaan ontmoet.

You need to be Logged In to leave a comment.