“Nee, nie trots nie… Dankbaar.” Só sê Danielle-Verné Louw, die Hoër Meisieskool Bloemhof se Dux-leerling vir 2018. Met sewe A’s en ’n gemiddelde van 96,2% beklee sy die topposisie in haar graadgroep.

“Ek het natuurlik gehoop om goed te vaar, maar ek het nie gedink dit sal só goed wees nie,” erken Danielle, wat Vrydag 4 Januarie 2019 saam met haar ma en pa op die aankondiging van die uitslae gewag het.

“Ek het in graad 10 besluit om op te hou om punte na te jaag – dalk is dit die verskil. Maar ek sou dit nie op my eie kon doen nie – alle eer aan die Here.”

Bloemhof pronk vanjaar weer met ’n 100%-slaagsyfer en 144 van die 146 leerders het met Baccalaureus-toelating geslaag. “Wat vanjaar aangenaam verras het, is die groot aantal A-gemiddeldes,” het Stephan Meyer, die skool se kommunikasiebestuurder, gesê. “Net meer as die helfte van die graadgroep het met ’n gemiddelde van 80% of hoër geslaag. Net 29 leerders het dié mylpaal net-net gemis en moontlik die opsie om hul vraestelle weer te laat nasien, ondersoek.”

Daniëlle en Alet Müller (95,33%) het vanjaar die WKOD se merietelys gehaal en twee leerders, Louie Gerber en Jeanne Claassen, het met agt A-simbole geslaag. Verder het 24 Bloemhoffers met sewe A’s, 19 met ses A’s, 12 met vyf A’s en 17 met vier A’s geslaag.

Business Insider South Africa het Maandag 7 Januarie ’n artikel gepubliseer waarin matriekuitslae – spesifiek die gemiddelde aantal onderskeidings per leerder – as maatstaf gebruik is om SA se top-10-skole te bepaal. Nie net het die Hoër Meisieskool dié lys gehaal nie, maar word wat akademiese prestasie betref as die top-staatskool in SA gereken.

“Ons bly egter nederig oor die feit dat die aantal onderskeidings nie die waardes en visie van ons skool moet oorskadu nie. Uiteindelik is die matriekuitslae die resultaat van ons leerders en opvoeders se gesonde werksetiek en baie genade. Ons kan hiervoor net dankie sê,” het die skoolhoof, Wilna van Heerden, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.