Omgee is nie verniet een van die Hoër Meisieskool Bloemhof se vyf waardes nie.
Daarom vier die skool se vereniging vir liefdadigheid en gemeenskapsdiens, Phoenix, vandeesweek iefde vir ander.
“Ons is en bly ’n gemeenskapskool,” meen Rina Paul, skakelonderwyser vir Phoenix. “Dis vir Bloemhof belangrik om ook buite die skoolhekke ’n verskil te maak.”
Biancke Wessels, voorsitter van die vereniging, verduidelik dat Phoenix drie organisasies identifiseer het en die behoefte wat elkeen ervaar onder die leerders se aandag wil bring.
Leerders en personeel het Dinsdag die geleentheid gehad om van al hul los sente ontslae te raak toe ’n muntlegging ten bate van Kansa gehou is.
Verder word elke Bloemhoffer gevra om een boek, een kledingstuk en een blikkie niebederfbare kos skool toe te bring wat aan Kindersorg Stellenbosch sal gaan. Phoenix-komiteelede verkoop ook pouses Famsa-hartjies ten bate van die Familie- en Huweliksvereniging van Suid-Afrika (Famsa).
Lede van die gemeenskap wat ook hul omgee wil wys, kan die skool se webwerf besoek vir meer inligting.