Die Bloemhof Investec-o.14A-hokkiespan het die naweek aan die Hoërskool DF Malan se o.14-toernooi deelgeneem en slegs een van sy sewe wedstryde verloor.
Dit is die eerste jaar dat Bloemhof aan hierdie toernooi deelneem.
Hoewel die wedstryde slegs 25 minute elk was, het die Bloemhoffers daarin geslaag om Edgemead High School met agt doele te klop. Ook Rhenish buig die knie voor die Bloemhof-span met ’n telling van 1-0.
Bloemhof en Paarl Gimnasium se spanne is as die spelers met die mees konstruktiewe spel aangewys sonder dat enige skool as die toernooiwenner gekroon is.
“Dit was goed om te sien hoe die meisies ná elke wedstryd oor hul foute besin en die volgende wedstryd met nuwe entoesiasme aanpak. Hierdie prys getuig dat ons harde werk vrugte afwerp en ons sien uit na die amptelike begin van die hokkieseisoen,” het Illse Davids, die span se afrigter en sportbestuurder vir hokkie, gesê.