Die Hoër Meisieskool Bloemhof se medium van onderrig is nou wel Afrikaans, maar die Bloemhoffers wat die nasionale seniorsertifikaat-eksamen in English Home Language in 2019 afgelê het, kon dit met hope selfvertroue doen.
Bloemhof is met 82,8% weer deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aangewys as die skool met die hoogste prestasie in Engels Huistaal in verlede jaar se eindeksamen.
“Ek dink die beste ding wat jy vir gr. 12’s kan gee, is selfvertroue,” sê Suna Wiese, wat in 2019 die English Home Language-matriekklas aangebied het en vanjaar weer oor ’n groep gr. 12’s waak.
Die ontwikkeling en bevordering van kritiese denke is net soos in die geval van ander vakke uiters belangrik. “Hier leer ons nie resep-antwoorde nie, maar moedig elke leerder aan om in haar eie denke te delf, die werk te interpreteer en krities daarop te reageer,” vertel Wiese.
Literatuur en kreatiewe skryfwerk is vir Wiese die lekkerste deel van klasgee. “I just love well thought out, creatively interpreted responses to topics,” sê sy sonder om te besef dat sy nie meer Afrikaans praat nie.
“Creative writing gives me endless joy. Literature is special as well. It gives us the chance to discuss more than prose and plot, but the human condition – a very interesting topic indeed.”