In 1875 was dit prof. Nicolaas Jacobus Hofmeyr en ds. Johannes Henoch Neethling, stigters van die Hoër Meisieskool Bloemhof, se droom dat Bloemhof, wat “die tuintjie” beteken, die Here as eienaar sal hê met ‘n vaardige skoolhoof as tuinier en mei- sies wat blomme vir die land kan wees.
Dit is nou 150 jaar later en die Bloemhof-tuin blom mooier as ooit. Die skool vier vanjaar 150 jaar van ‘n tradisieryke geskiedenis, susterskap en uitnemendheid.
Die 150-jaar-fees is reeds op 15 Februarie met ‘n feestafel van byna 500 gaste ingelui. Daarna het Bloemhoffers, hul familie en die gemeenskap van 8 tot 16 Maart behoorlik feesgevier.
Die feestelikhede het waterkaskenades, die Remax Infoglobe-feesmark op die skoolterrein, ‘n konsert deur Spoegwolf, ‘n talentaand met bekende beoordelaars, die onthulling van die skool se gedenkplaak, die bekendstelling van die 150-jaar-gedenkboek, uitreike na die gemeenskap wat Bloemhof vir 150 jaar ondersteun en gedra het, die jaarlikse Bloemhof-Cogent-gholfdag, ‘n staptog deur die strate van Stellenbosch waar die hele skool met wapperende vlae en baniere gestap het, ‘n feestelike Stigtersdag-byeenkoms met Old Girls van heinde en ver, ‘n verjaarsdagdans vir die seniors en ook ‘n dans vir die juniors ingesluit.
Die feesweek is met ‘n dankseggingsdiens in die Moeder- kerk afgesluit om dankie te sê vir 150 jaar se genade-stories.
Bloemhof bedank elkeen wat aan die 150-fees deelgeneem het asook elke leerder, oudleerder, huidige en vorige personeellede en ouers en lede van die gemeenskap, wat ‘n aandeel in die sukses van Bloemhof se 150-jaar-geskiedenis het.
Dit is belangrik om jou geskiedenis te ken, te vier en daarop voort te bou.
Bloemhof ken haar geskiedenis wat in die 150-jaar-gedenkboek opgeteken is en durf juis daarom die volgende 150 jaar met selfvertroue aan.