Donderdag 21 September kon die Hoër Meisieskool Bloemhof die eerste keer sy interhuisatletiekbyeenkoms op sy eie atletiekbaan aanbied.
Die Bloemhoffers moes voorheen die Markötter-sportterrein of die Coetzenburg-stadion gebruik.
Die splinternuwe Janine Visser-atletiekoefengerief, wat in Oktober eers amptelik geopen word, bestaan uit ’n naelloop-tartanstrook van 60 meter, ’n 200 m-grasbaan vir middel- en langafstande en geriewe vir hoogspring, verspring, spiesgooi, gewigstoot en diskus.
Die skool se drie huise – Hofmeyr, Joubert en Neethling – het om die gees- en atletiekbeker deelgeneem, maar die hoofdoel was om op ’n aangename manier nuwe atletiektalent te ontdek sodat atlete hul potensiaal kan ontwikkel.
Dit word gedoen met die oog op die 4M, waar Bloemhof, Rhenish, HMS La Rochelle en HMS Paarl mekaar in Februarie op die atletiekbaan pak.
“Die dag se sukses berus op die feit dat die kleiner tuisveld die meisies op hul gemak laat voel het. Items is beter as gewoonlik ondersteun en ’n prettige atmosfeer het geheers,” sê Jenny King, Bloemhof se sportbestuurder.
Huis Joubert is met die geesbeker beloon, maar die atletiekbeker is die derde agtereenvolgende jaar deur Huis Hofmeyr gewen.
Rosa Kirsten (gr. 11) en Mieke Basson (gr. 10) is gesamentlik as victrix ludorum aangewys.