Gelukkige kinders en opvoeders wat al hul potensiaal ken en benut.
Dit is Wilna van Heerden, hoof van Hoër Meisieskool Bloemhof, se droom vir die skool se toekoms.
Sy hoop ook dat almal wat deur die skool en sy onderwysers se hande gaan as welaangepaste mense hul plek in die wêreld kan inneem – mense wat ander kan dien, ewige studente bly en weer eendag in dié skool kan terugploeg.
Bloemhof het Vrydag 10 Maart hul Stigtersdag by die Bloemhof-sentrum gevier. Sy vertel daar het baie opwindende dinge by Bloemhof sedert die laaste Stigtersdag gebeur soos die bou van Bloemhof se eie atletiek-fasiliteit met die finansiële steun van ’n oud-leerder, die Oranje-Uitruil wat plaasvind saam met Paul Roos Gimnasium, Daslas-matrieks en ’n nuwe lesinglokaal wat met finansiële steun van oud-leerders moontlik gemaak is.
Die skool het ook ’n gelukbringer, Fiedel die beer, gekry wat haar verskyning by die 4M atletiek- en swembyeenkomste gemaak het.
Behalwe vir al die nuwe avonture is daar ook vele tradisies wat oor die jare by Bloemhof gekoester word, tradisies soos die vier van die skoolhoof se verjaardag asook Stigtersdag se kranslegging.
Dan is daar ook die Pretdag as die matrieks uitstap en die graad 11’s oorneem as leiers. Die “kleintjies” (graad 8’s) se oorslaap en geheime program en die graad 11’s se spesiale kamp is ook van die gunstelingtradisies by Bloemhof.