Ter viering van Wêreldboekedag, wat jaarliks 23 April gevier word, het die leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof Donderdag 18 April hul gunstelingstorieboeke vir inspirasie oopgeslaan en nes een van die karakters aangetrek.
Bloemhof se gange was as’t ware ook dié van Hogwarts, J.K. Rowling se bekende skool vir toorkuns en towery, toe ’n groot aantal onderwysers as professore van Huis Gryffendor, Slytherin, Hufflepuff en Ravenclaw die dag se klasse aangedurf het. Die leerders se vierkant was terselfdertyd A.A. Milne se Hundred Acre Wood met Winnie die Pooh en sy vriend Christopher Robin nie te ver nie en, as jy mooi kyk, kon jy selfs vir Willie en sy makkers vind. Katniss Everdeen, die heldin van Suzanne Collins se Hunger Games-reeks se kostuum was in die kol en ewe wonderlik was die Alices en hul Haastige Hase. Selfs die adellikes het opgedaag: Sneeuwitjie, die Slapende Skoonheid en selfs Star Wars se Princess Leia.
Hierdie inisiatief is deur me. Venessa de Beer, die bestuurder van die skool se mediateek, van stapel gestuur om geld vir liefdadigheid in te samel en die leerders aan die wonderlike wêreld van boeke te herinner.
“Boeke verbreed die verbeelding,” sê sy, “en met die wonderlike kostuums wat die dag opgelewer het, is dit duidelik dat Bloemhoffers skeppend is en dit geniet om pret te hê,” sê Venessa.