Die Hoër Meisieskool Bloemhof het weer daarin geslaag om die verhoog te oorheers en as wenners van vanjaar se ATKV-tienertoneelfees gekroon te word.

Jong voornemende teatermakers het van 1 tot 5 Oktober die Roodepoort-teater se verhoog betree, gehore vermaak, ontroer en bekoor om uiteindelik ’n kans te hê om as die wenner van die 54ste ATKV-tienertoneel gekroon te word.

Bloemhof se produksie, tot stof/tot stilte – ’n paniekreaksie, het nie net verskeie individuele pryse gewen nie, maar dié skool het ook in 2015 as wenners van die kompetisie uit die stryd getree.

Die skool ontvang prysgeld van R30 000, die ATKV-tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak by volgende jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Die produksie in die tweede plek is Eden, aangebied deur die Hoërskool Eldoraigne van Centurion. Die Hoërskool Tygerberg van Kaapstad is as die derdeplekwenner met Vlot ter see aangewys.

Die 19 produksies wat na die eindronde van ATKV-tienertoneel genooi is, het ná 11 ATKV-tienertoneelstreekfeeste en 195 produksies gewys wat in hulle steek om saam met die beste van die bestes te kom meeding.

Die beoordelaars in die eindronde was Ismail Mahomed, Gerben Kamper, Ira Blanckenberg, Tara Notcutt, André Stolz en Marlo Minnaar.

“Ons is dankbaar dat ons leerders se talent daardie aand tot die beoordelaars en die gehoor gespreek het, want enige van die topvyf-produksies kon gewen het,” sê André Gerber (regisseur), wat meen dat die vier ander finaliste vir teater van ’n hoë gehalte gesorg het.

By die prysuitdeling is Bloemhof se produksie in vyf kategorieë benoem, onder meer vir beste regie en beste ensemble.

Ané Conradie is aangewys as vanjaar se beste beligtingsoperateur terwyl Marisca Engelbrecht die prys vir die beste klankoperateur ontvang het.

Twee Paul Roosers het ook tot vanjaar se wenproduksie bygedra.

Stehan Odendaal, ’n graad 11-leerder, was die enigste seun in die ensemble en ontvang vanjaar die ATKV-tienertoneel se prys vir die mees belowende spel deur ’n seun, terwyl David Wolfswinkel, ’n oudleerder, die produksie se musiek gekomponeer het.

“Ek was aanvanklik bang aangesien ek net drie van die meisies in die geselskap geken het, maar hulle het my vinnig gemaklik en deel van die teaterfamilie laat voel,” sê Stehan, ’n gereelde ondersteuner van Bloemhof se vorige toneelstukke.

“Ek neem aan die regisseurs het begin sien dat ek altyd daar is en my toe genooi om vir ’n oudisie te kom. Dit was reeds in Januarie en basies ’n dream come true.”

Gerber is vol lof vir die geselskap, maar eerlik as hy erken dat die hele proses vervullend dog uitputtend is.

“Die leerders se betrokkenheid het veroorsaak dat die teksontwikkeling baie lank geneem het, maar dit wat jy dan uitkry, is baie meer eg tot hulle individuele ervaring as tieners in ’n skoolopset.”

You need to be Logged In to leave a comment.