Die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum (SOS) het Vrydag 9 Februarie weer die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch as die beste Afrikaanse skool in die land vereer.
Dié merietetoekenningsgeleentheid, wat in Centurion in Gauteng gehou is, is deur tientalle skole van oor die land heen bygewoon.
Bloemhof is volgens die 2023-SOS-matriekverslag as topskool onder Afrikaanse, dubbelmedium- en parallelmediumskole aangewys. Hierdie prys word gebaseer op die gemiddelde aantal onderskeidings per kandidaat.
Die skool se matriekgroep van 2023 het 3,57 onderskeidings per kandidaat behaal – die derde meeste in die land naas Herschel Girls’ High School en Rustenburg Girls’ High, albei Engelse skole in die Wes-Kaap.
Dit besorg Bloemhof dus ook die eerste plek in die Wes-Kaap onder alle Afrikaanse, dubbelmedium- en parallelmediumskole.
Ses uit die top-20-skole in die land is Afrikaanse skole en veral enkelgeslagskole het uitgeblink.
Tesame met hierdie top-skooltoekenning is Bloemhof ook vereer in die volgende vakgebiede gegrond op die aantal onderskeidings per kandidaat:. Afrikaans Huistaal: ’n Algeheel tweede plek landwyd onder alle skole en algeheel eerste in die Wes-Kaap;. Engels Eerste Addisionele Taal: Algeheel tweede plek landwyd en die eerste plek onder Afrikaanse skole;. Ingenieursgrafika- en ontwerp: Algeheel derde plek landwyd en eerste plek onder Afrikaanse skole;. Wiskundige geletterdheid: Algeheel vierde plek landwyd en eerste plek onder Afrikaanse skole;. Fisiese wetenskappe: Algeheel agtste plek landwyd en eerste plek onder Afrikaanse skole en. Ekonomie: Kandidaat vir algeheel 14de plek landwyd.
“Hierdie uitstaande uitslae wat ons matriekgroep gelewer het, aanvaar ons nie as vanselfsprekend nie en kan toegeskryf word aan ons puik opvoeders wat hulle uitstekend van hul taak kwyt, die uitstekende werksetiek by die leerders en personeel, gesonde selfwaarde en natuurlik die seën van die Here,” het Wilna van Heerden, hoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof, gesê.