Bloemhof weer topskool in 2023-eksamen

Die 2023-matriekklas van die Hoër Meisieskool Bloemhof het weer eens met hul nasionale seniorsertifikaat-uitslae gewys waarom dít een van die topskole in die land is.


Die 2023-matriekklas van die Hoër Meisieskool Bloemhof het weer eens met hul nasionale seniorsertifikaat-uitslae gewys waarom dít een van die topskole in die land is.

Die klas het ’n 100%-slaagsyfer behaal en spog ook met 98% van sy leerders wat met universiteitstoelating geslaag het.

Mila van Wyk, Bloemhof se Dux-leerder vir 2023, spog met ’n gemiddelde van ’n allemintige 95,17% vir al haar vakke.

Sy gaan vanjaar aktuariële wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer.

Haar droom is om eendag haar eie maatskappy te besit en haar eie baas te wees. Sy sien ook daarna uit om eendag haar eie gesin te hê en meen ’n goeie werk-lewe balans is hoog op haar prioriteitslys vir die toekoms.

Niela van Zyl (links) en Chloë de Brauwere van Steeland gaan saam deur hul uitslae.

’n Glimlaggende Annabelle van Zyl en haar trotse pa, Daneel.

Daar was groot glimlagte op die gesigte van dié groep matrikulante.

Dit was ’n emosionele, maar vreugdevolle dag vir Angel Dyata.

Mila se resep tot sukses is om selfdissipline toe te pas.

“ ’n Mens is nooit werklik lus om te leer en hard te werk nie, maar jy moet altyd jou doel voor oë hou en dit wat jy wil bereik, in jou agterkop hê. Dit gee jou iets om na toe te werk – selfs wanneer jy nie juis gemotiveerd is nie,” sê sy.

Mila meen ook dit is belangrik om jou manier van leer goed te ken en uit te vind watter leermetodes vir jou werk, sodat jy daarby kan hou. Sy skryf haar sukses ook grootliks toe aan die ondersteuning en hulp wat sy van haar onderwysers, vriende en gesin ontvang het.

Kort op haar hakke volg Thea-Mari Roos met ’n gemiddelde van 94,83% vir haar sewe vakke. Lara Potgieter, Catherine Kies en Catrien Müller het elkeen agt A-simbole behaal.

Dié Bloemhof-groep het altesaam 483 vak-A’s, 3,57 A’s per leerder en 50 A-gemiddeldes opgelewer. Boonop het 76,8% van die algehele klasgroep van 135 leerders ’n B-gemiddelde of hoër verwerf.

’n Blik op Bloemhof se uitslae
  • 3 kandidate slaag met agt A’s
  • 17 slaag met sewe A’s
  • 14 slaag met ses A’s
  • 16 slaag met vyf A’s
  • 11 slaag met vier A’s
  • 45,2% slaag met vier of meer A-simbole
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.