HMS Bloemhof se eerste tennisspan het van 9 tot 11 Mei hul titel as kampioene van die Amanda Coetzer-tennistoernooi in die Rosestad teruggewen.
Dit was die 22ste bestaansjaar van hierdie prestigeryke toernooi, waar Bloemhof reeds 14 keer met die louere weggestap het.
Agt van die voorste meisiestennisspanne van oor die land het aan die toernooi deelgeneem. Bloemhof het ná afloop van die rondomtalie-afdeling van die toernooi eerste in Groep 1 (Bloemhof, Waterkloof, Afrikaans Hoër Meisies en Helpmekaar) geëindig. Groep 2 het bestaan uit Oranje, Menlopark, Hoër Meisieskool Paarl en Paarl Gimnasium, met Oranje wat bo-aan hierdie groep geëindig het.
In die halfeindstryd het Bloemhof oortuigend met Hoër Meisieskool Paarl afgereken, terwyl die Oranje-span ook ’n goeie oorwinning oor Helpmekaar behaal het. Dit het beteken dat Oranje en Bloemhof, soos in die afgelope sewe jaar, sake vir die eerste plek moes uitspook.
Pragtennis is in die eindstryd gespeel. Met die telling op 4-1 in Bloemhof se guns was die gesogte titel weer Bloemhof s’n. Die wedstryd tussen die twee skole se nommer 1-spelers, Rochelle Pienaar (Bloemhof) en Linge Steenkamp, was egter nog nie verby toe die uitslag bepaal is nie. Hierdie wedstryd moes voltooi word om die beste nommer 1-speler van die toernooi te bepaal. Pienaar het uiteindelik die titaniese stryd, asook die titel as speler van die toernooi, in drie stelle gewen.
Pascal Guebert, Bloemhof se inspirerende afrigter van die Edge-tennisakademie, se invloed was deurgaans sigbaar in die Bloemhof-span se spel.
Onder sy bekwame leiding het die Bloemhoffers ook in Maart vanjaar die Gerrie Berner-toernooi gewen toe hulle ook dáár in die eindstryd met Oranje afgereken het.
Bloemhof kan tans met reg as die nommer 1-tennisskool vir meisies in die land beskou word.
Die hoogtepunt was die oorwinning wat Bloemhof in die o.15-toernooi behaal het. Hulle het Oranje in die eindstryd suksesvol 4-2 verslaan en sodoende die eerste keer die wenners in hierdie afdeling geword. Die span is afgerig deur Edge-afrigter Jonathan Edmunds, wat ook die tennisbestuurder by Bloemhof is.
Nog hoogtepunte by die prysuitdeling was dat sewe van die 12 Bloemhoffers as die beste speler op hul posisie aangewys is nadat hulle dwarsdeur die toernooi onoorwonne was. Dié Bloemhoffers is:
Eerste span: Rochelle Piennaar (no. 1), Christine Kruger (no. 2), Mienke Viljoen (no. 3), kaptein Alta Brink (no. 4) en Jana van Vreden (no. 6).
o.15-span: Janke-Martine Viljoen (no. 3) en Jané Louw (no. 4).