Rentia-Marié Meyer (18), ’n oudleerder van die Hoër Meisieskool Bloemhof, was een van 63 A-kandidate om Maandag 1 Maart ’n spesiale seremonie by haar alma mater by te woon.
By die Pêrelseremonie ontvang elke Bloemhoffer wat die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen met ’n gemiddelde prestasie van 80% of meer geslaag het ’n pêrelhangertjie as teken van waardering vir hul volharding en goeie werksetiek.
Vir Rentia het die oggend egter ’n groter verrassing ingehou toe sy ook as die wenner van die gesogte Elize Coetzee-prys aangewys is. Die prys sluit ’n studiebeurs van R20 000 in en is na mej. C.E.S. Coetzee, ’n voormalige skoolhoof, genoem en word jaarliks deur wyle dr. en mev. Anton Rupert geskenk en deur die Rupert-onderwysstigting gefinansier.
“Die Elize Coetzee-prys word aan ’n leerder toegeken wat behalwe buitengewone akademiese prestasie ook ’n goeie leier is en met goeie inbors, lojaliteit en inisiatief optree,” sê Ilze Wright (departementshoof). “Rentia is beslis ’n waardige wenner!”
Rentia het glad nie hierdie eer verwag nie aangesien die prys gewoonlik in Oktober by die prysuitdeling oorhandig word. Weens Covid-19 en die veiligheidsbeperkings wat dit inhou, kon daar nie in 2020 ’n prysuitdeling plaasvind nie.
“Dit wys net vir my dat die beste dinge in die lewe altyd onverwags kom,” sê Rentia, wat erken dat sy steeds geskok is. “Ek voel so geëerd om die ontvanger van hierdie prys te wees, maar ek weet dis te danke aan elke engel van ’n onderwyser wat my die afgelope vyf jaar help vorm het tot wie ek nou is. Hierdie prys is eintlik vir my ’n simbool van hoe kragtig goeie invloede in jou lewe kan wees, en hoe ver harde werk en deursettingsvermoë ’n mens kan bring.”
Rentia is doof gebore, maar “hoor” reeds van kleintyd af danksy kogleêre inplantings. Sy was gelukkig om met behulp van die gemeenskap en die plaaslike Spar op die ouderdom van twee kogleêre inplantings te kry. “Terwyl my vriende al kon praat en speel, moes ek saam met my spraakterapeut en oppasser leer praat,” sê sy. “My doofheid het dit soms laat voel of ek meer moet doen of insit, en dit was ook so, maar ek het nooit gevoel my inplantings hou my terug nie.”
Ten spyte van haar gehoorgestremdheid kon sy in 2016 by Bloemhof aansluit waar sy gefloreer het. Sy dien in haar matriekjaar as die redaktrise van die skoolkoerant en, al kon sy weens die inplantings nie juis aan sport deelneem nie, was sy dikwels langs die sportveld om gebeure en foto’s op Bloemhof se sosiale kanale te deel. Sy slaag haar eindeksamen met sewe A’s en ’n gemiddelde van 90,17%.
Vanjaar gaan Rentia BA (sielkunde) aan die Universiteit Stellenbosch studeer. “Omdat die meeste van my au pairs opvoedkundige sielkundiges was, wil ek ook graag eendag een wees,” meen sy. “Hulle het my geïnspireer en ek wou al van kleins af een word.”
Rentia se raad aan ander leerders is om nie te verwag dat alles om jou vanself gaan gebeur nie. “Elkeen se passies en talente verskil – strewe dus na dinge waarmee jy gemaklik voel, en omring jouself met mense wat jou opbou. Ek is maar net ’n doodgewone meisie wat toevallig doof gebore is. Ek dink ’n mens moet liewer fokus op dit wat jy hét, en nie op dit wat jy nié het nie. Dan kan jou drome waar word. Hou aan, hou moed en bly altyd vriendelik. En dankbaar.”