Lize-Alet Morkel, ’n graad 11-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, is 15 Oktober as Tennis Suid-Afrika se o. 18-vrouekampioen gekroon toe sy die Tennis Suid-Afrika (TSA) se meesterstoernooi in Potchefstroom gewen het.
“Dit was ’n uitstekende toernooi en ek moes by elke wedstryd hard baklei om te wen. Almal wat genooi is om deel te neem, was regtig baie goed,” sê Lize-Alet. Sy is baie trots en dankbaar om dié titel te kon wen.
Die meesterstoernooi is een van twee gesogte toernooie op TSA se sportkalender. Die ander een is TSA se Nasionale Kampioenskap, wat vanjaar deur Minette van Vreden, ook ’n Bloemhoffer, gewen is.
Drie ander Bloemhoffers, Corin de Waal (gr. 11), Bianca Wolmarans (gr. 10) en Lenka Steenkamp (gr. 8) is ook genooi om aan die meesterstoernooi deel te neem. Corin deel die derde plek in die ouderdomsgroep o. 18, terwyl Bianca ’n sewende plek onder die o. 16’s en Lenka ’n 11de plek onder die o. 14’s behaal het.
Op die tuisfront het ’n gekombineerde Bloemhof-Paul Roos-tennisspan Vrydag 15 Oktober as die wenners van Hoërskool Stellenbosch se o. 15-gemengdetoernooi uit die stryd getree. Veral die gasheerskool het vir sterk kompetisie gesorg. Bloemhof se drie spelers was Linda Mentz, Anje Dercksen en Augusta-Mari Dercsken.