Twee leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, Milla Kotze (gr. 8) en Nina van Eeden (gr. 9), was lid van die o.15-Boland-tennisspan wat van 18 tot 22 Maart aan die inter-provinsiale tennistoernooi in Groenkloof, Pretoria, deelgeneem het. Milla is die span se nommer 1 en Nina het in die nommer 3-posisie gespeel.

Die span het teen sterk spanne van oor die land heen meegeding en uiteindelik algeheel derde geëindig. Hulle het met slegs een punt teen KwaZulu-Natal in die halfeindronde verloor en in hul laaste wedstryd die Gauteng-Noord-span geklop.

Milla is ná die toernooi in die Suid-Afrikaanse o.15-tennisspan opgeneem. Dié span vertrek aan die einde van Junie na Londen waar hulle SA onder meer in ’n toernooi by die prestigeryke Bisham Abbey Sport Centre sal verteenwoordig en ’n besoek aan Wimbledon gaan aflê.

Milla is ook na afloop van die FS Growthpoint- en die SA nasionale tennistoernooi vir die o.14- SA span gekies, wat van 2 tot 8 Mei aan die ITF/CAT-Sonekampioenskap in Zimbabwe gaan deelneem. Daar sal hulle teen ander Afrika-lande meeding.

You need to be Logged In to leave a comment.