Twee Bloemhoffers, Tia Bruwer (graad 9) en Andri Malan (graad 10), het in Mei aan die halfeindronde van die jaarlikse ATKV-redenaarskompetisie deelgeneem en uiteindelik die beoordelaars oortuig hulle kan nie anders as om ook in die eindronde hul sê te sê nie.
Tia was eerste in die junior huistaalsprekers-afdeling (graad 8-9) met voorbereide toesprake. Haar onderwerp was “Vroue breek tralies af” en in haar toespraak wys sy dat vroue in die korporatiewe, politieke en akademiese wêreld meer as hul man kan staan.
Vanjaar het Bloemhof ook vir die eerste keer ’n leerder in die kategorie vir Afrikaans addisionele taal-sprekers ingeskryf. “My huistaal is isiXhosa,” sê Thina Gabavana (graad 10), “maar ek het in graad 8 Afrikaans begin leer.”
Sy het ’n voorbereide toespraak gelewer en onder die top vyf in die Wes-Kaap geëindig. “Al sukkel ek nog ’n bietjie, kan ek vandag met selfvertroue Afrikaans voor mense praat.”
Ander Bloemhoffers wat in die top 10 in die Wes-Kaap geëindig het, is Nita de Jager (agtste, voorbereide toesprake vir juniors), Lisa Dudley (tiende, onvoorbereide toesprake vir juniors), Cimòn van der Westhuizen (vyfde, voorbereide toesprake vir seniors) en Ané Havenga (sesde, onvoorbereide toesprake vir seniors).