Die Hoër Meisieskool Bloemhof het vanjaar behoorlik by die nasionale All Girls’ Festival geskitter en die drie deelnemende spanne het ’n eerste, tweede en vierde plek behaal.
Die fees, wat deur 19 openbare meisieskole van regoor Suid-Afrika bygewoon is, het van 27 tot 30 April by Clarendon High School for Girls in Oos-Londen plaasgevind.
Dit was die tweede jaar dat Bloemhof se eerste netbal- en hokkiespan die fees bywoon, maar vanjaar het ’n tennisspan ook saamgegaan. Al drie spanne het die laaste dag van die fees om medaljes meegeding.
Bloemhof se eerste hokkiespan, wat deur Investec geborg word, het al sy groepwedstryde oortuigend gewen. Bloemhof het Durban Girls’ High 3-0 geklop, HMS La Rochelle 4-1 en die sterk Eunice High School for Girls 2-1.
Bloemhof het in die kwarteindronde teen Pretoria Girls’ High gespeel en 3-1 gewen, maar ’n gedugte span van die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje het die halfeindronde 2-1 gewen sodat die Bloemhoffers hul buurskool, Rhenish Girls’ High, in die uitspeelwed-stryd vir die derde en vierde plek moes pak. Bloemhof was egter die enigste span in die toernooi wat ’n enkele doel teen Oranje kon aanteken.
Rhenish het dit reggekry om ’n doel binne die eerste paar minute te skiet – iets wat gou daarna weer gebeur het. Die wedstryd is oorwegend in Rhenish se helfte gespeel en pogings deur Bloemhof om veld te wen, is keer op keer deur Rhenish se knap verdediging afgeweer.
’n Pragtige doelpoging waar Mieke Basson (gr. 11) deurgebreek en Marli Ehlers (gr. 12) aangegee het, het misluk toe die bal net-net te hoog oor die doelhok is. Die eindtelling was 2-0 in Rhenish se guns en die Bloemhoffers het in die vierde plek op die fees se hokkieranglys geëindig.
Bloemhof was in 2017 vyfde.
Vervolg op bl. 22