In die eerste byeenkoms van die landloop-skoleliga het die Hoër Meisieskool Bloemhof se junior landloopatlete behoorlik hul teenstanders stof in die oë geskop.
Die byeenkoms is op Woensdag 3 Mei in Wellington gehou.
“Dit was ’n aflosbyeenkoms, so ons het in spanne van twee gehardloop,” sê Karla Brugman, wat saam met haar tweelingsussie, Ilse, die goue medalje verower het.
Die Brugmans is albei vanjaar in graad 8. Azrea Sylvester en Carli Jacobs (albei in gr. 9) was kort op hul hakke om die tweede plek in te neem. Bloemhof is tans eerste in die junior afdeling, met Hugenote Hoërskool en Hoër Meisieskool La Rochelle onderskeidelik tweede en derde.
Ander skole wat deelgeneem het, sluit in die Hoërskool Labori, HMS Paarl en Paarl Gimnasium.
Die senior span, wat uit Nicole Ferreira en Karmi de Villiers (albei in gr. 11) bestaan, was sesde onder die seniors, maar teken genoeg punte aan om vir Bloemhof ’n vierde plek in die liga se senior afdeling te verower.