Jacobie Kotze, ’n matrikulant aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, wou vir haar 18de verjaardag ’n klimraam hê.
Nie vir haarself nie, maar vir die leerders van die GoKidz-kleuterskool in die Jamestown-begraafplaas se informele nedersetting.
Die Hoër Meisieskool Bloemhof is reeds vir ’n aantal jare by dié kleuterskool betrokke en het oudergewoonte die jaar met ’n Kerspartytjie afgesluit. Vanjaar se Kerspartytjie het ook verjaardagkoek en ’n springkasteel gehad – as deel van Jacobie se wens om op haar verjaardag iets aan die gemeenskap terug te gee.
Daar is weer poppekas gehou en uiteindelik het Kersvader ’n draai kom maak om geskenke aan die leerders uit te deel.