Leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof het verlede week by die suidelike streeksuitdunne van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie uitgeblink en as naaswenners van hul afdeling weggestap.
Die debatkompetisie, wat op 12 Mei by die Hoërskool DF Malan aangebied is, het uitnemende debatte opgelewer en tot naelbyt-eindstryde in die junior sowel as die senior afdelings gelei.
Hierdie was die eerste uitdunronde in die jaarlikse kompetisie, waarna vier verdere uitdunrondes sal volg. Die eindronde om die nasionale wenspanne te kroon, sal op 7 Oktober in Centurion plaasvind.
Volgens Gert Visser, die hooforganiseerder van die Hoërskool DF Malan, groei die suidelike streeksuitdun jaarliks in gewildheid – Vrydag het 174 leerders van 17 Wes-Kaapse skole deelgeneem. Dié skole is DF Malan, Stellenberg, Langenhoven, Hugenote, Durbanville, Parow, Bellville, Jan van Riebeeck, Parel Vallei, Stellenbosch, Tygerberg, Swartland asook die Hoër Meisieskool Bloemhof, Paul Roos Gimnasium, Worcester Gimnasium, Paarl Gimnasium en die Hoër Meisieskool La Rochelle.
In die afdeling vir junior hoërskoolleerders het twee spanne van die Hoërskool Durbanville in die eindronde teen mekaar te staan gekom. Die tweeling Angelique en Genevive Myburgh en hul spanmaat, Lenae le Roux, het as wenners uit die stryd getree met Elzette Bester, Alberto Cloete en Kian Lombard in die tweede plek.
In die senior afdeling was die wenners André Venter, Leah Coetzee en Alexander Volschenk van die tuisspan van DF Malan met Chrystan Wagenstroom, Miné Malan en Mila Kotzé van die Hoër Meisieskool Bloemhof die naaswenners.
Die finale debatte het tydens ’n gala-geleentheid plaasgevind.
Die beoordelaars was Danie van der Merwe, Anita Voges, Erna Steenkamp, Marita Nel en Elbie Adendorff, wat die moeilike taak gehad het om die wenners uit die spitsvondige, welsprekende deelnemers aan te wys.
DF Malan se kamerkoor het die gehoor tussen die debatte vermaak.
AfriForum as borg van die kompetisie en aanbieder van die nasionale eindronde is deur Alana Bailey, die hoof van kultuursake by AfriForum, en Nicolene Müller, die projekkoördineerder van die kompetisie, verteenwoordig. Hulle het hul dank teenoor al die deelnemers, die Hoërskool DF Malan en in die besonder aan Visser oorgedra vir die insette wat verseker dat die kompetisie jaarliks nuwe hoogtes bereik.
“Vanjaar se spanne se kennis van aktuele sake en hulle debatsvernuf het ons opnuut beïndruk. Debattering is ’n vaardigheid waarby enige leerder baat. Ons is bly dat die aantal deelnemers toeneem en sien uit na die res van die jaar se kompetisies,” sê Bailey.