Bloemrose laat rekords op atletiekbaan en -veld spat

Wanneer byna 2 000 Bloemroos-leerders saam op die pawiljoen omdraai om een van die legendariese Bloemroos-krete te sing, weergalm nie net hul stemme en stampende voete deur die hele stadion nie, maar ook die band wat tussen dié broer- en susterskool


Wanneer byna 2 000 Bloemroos-leerders saam op die pawiljoen omdraai om een van die legendariese Bloemroos-krete te sing, weergalm nie net hul stemme en stampende voete deur die hele stadion nie, maar ook die band wat tussen dié broer- en susterskool bestaan – ’n band wat nie sommer elders gevind word nie.

Die sweet, trane en hoendervleis in die warm Paarl-son sal altyd soveel meer as die puntetelling beteken, maar steeds het die Hoër Meisieskool Bloemhof uitstekend tydens die Prestige-atletiekbyeenkoms gevaar.

Die o.15’s het ses naellooprekords verbeter. Simone van der Merwe het die 800 m-, Daniela Viljoen die 800 m- en 1500 m-, en Pippa Viljoen die 200 m- en 400 m-rekords laat spat.

Die meisies het ook die 4×100 m aflos-rekord verbeter.

Lana Oberholzer én Mignonne de Beer het ook die rekord by die o.17- 100 m-hekkies verbeter deur onderskeidelik eerste en tweede in hierdie item te eindig. Bloemhof het 18 goue medaljes, 18 silwer- en 17 bronsmedaljes gewen.

Pippa is as die beste junior baanatleet aangewys, en Lana as die beste senior baanatleet.

Die leerders se baadjietrots en die klipharde, onophoudelike geeskrete het aan elke Bloemroos-leerder die energie verleen om so effens vinniger te hardloop, verder te spring en verder te gooi.

Selfs die dansers was dankbaar toe Bloemroos aanhou juig midde die tegniese probleme wat deur beurtkrag veroorsaak is. Selfs Fidel en Paul Roos het die musiek en gees geniet.

Vir baie van die jonger leerders was dit ’n eerste ervaring – een wat hulle vir ewig sal koester – maar die matrieks se stemme en harte was die heel seerste toe hulle een laaste keer die skoollied by Prestige moes sing.

“ ’n Derde plek bly altyd ’n voorreg indien dit in die maroen- en vlootblou baadjies verower is,” het die Bloemrose laat hoor.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.