Die natuurlike prag van Stellenbosch sal weer ten toon gestel word wanneer een van die land se belangrike tuinleefstyl-feeste in Oktober sy terugkeer maak.
Stellenbosch ontsien weer geen moeite vir tuiniers en liefhebbers van die buitelewe in die tien dae lange Garden Town Stellenbosch-fees nie, wat van Donderdag 20 tot Sondag 30 Oktober sy strate en omliggende omgewing sal transformeer.
Die samekoms is geïnspireer deur die wêreldbekende blommefees in Girona, Spanje, en sal alles van tuinboutoere tot blomkuns insluit soos eet tot stap en gas-tuinspesialiste – alles in ’n pragtige omgewing. Selfdoen groentetuin maak, wynproe, verf, begeleide voëlstappe, kranse maak, mos-opvoedkundige praatjies, teken met gare, heuningproeë en vele meer – dit is alles by vanjaar se program ingesluit.
Garden Town Stellenbosch is ’n Visit Stellenbosch-inisiatief, wat bestaan uit die streek se toerisme-belanghebbendes en -vennote, waaronder die Stellenbosch-munisipaliteit en Stellenbosch Wynroetes. Die doelwit is om die toerisme- en ervaringsekonomie in die dorp tot voordeel van alle gemeenskappe te laat groei. Dit betrek bekende eiendomme en persoonlikhede, soos die Dylan Lewis Beeldhoutuin, Rupert Museum, Quoin Rock, Ernst van Jaarsveld, Lanzerac en Babylonstoren, terwyl dit ook die lewe van mense in die Kayamandi-, Idasvallei- en Klapmuts-gemeenskappe verryk.
Tydens die fees sal die Stellenbosse sakekern versier word met ’n blomtema en prominente installasies. Kleurvolle blomvertonings sal, soos verlede jaar, by openbare ruimtes in Birdstraat gelewer word. Hou jou oë oop vir motors, fietse, ’n Harley Davidson-motorfiets en -trollie, wat met blomme versier is en in die dorp uitgestal word.
Die program begin op 20 Oktober met ’n groot blomparade, wat as amptelike bekendstelling van Garden Town Stellenbosch sal dien. Trek volgens die tema aan en as jy hulp nodig het, sal daar ’n stalletjie by Die Braak wees wat toepaslike toebehore verkoop. Daarna word ’n blomme-weergawe van die dorp se somer-opskiet- straatgeselligheid – ’n Tuin Soiree – by Voorgelegen se vernuwende tuine in Dorpstraat aangebied.
Talle aanbiedings en installasies sal deur die Wes-Kaapse Vereniging vir Blommerangskikkers by die Stellenbosch-stadsaal plaasvind. Lede van blommeklubs sal van Donderdag 22 tot Saterdag 29 Oktober deelneem en daar sal ook werksessies en blommerangskikkingsgeleenthede en -meesterklasse wees. Die stadsaal sal ook ’n kunsuitstalling deur The Voice Collective aanbied.
Private wonings se tuine sal vir besoekers Vrydag 21 en 28 en Saterdag 22 en 29 Oktober oop wees. Besoekers word aangeraai om die program na te gaan om te sien watter tuine wanneer oop is. ’n Toegangsfooi van R20 per tuin sal gehef word, of ’n naweekpaspoort van R200, wat toegang tot al die tuine bied, is ook beskikbaar. Sommige private tuine vorm deel van die nuwe Burgemeester Tuinkompetisie, wat op tuine in nuwe behuisings- en gemeenskapsontwikkelings fokus. Vyf nuwe behuisingsgebiede sal oorweeg word: Mandela City in Klapmuts, Hillside in Idasvallei, Watergang in Kayamandi, Jamestown en La Motte in Franschhoek.
Die streek se beroemde tuine is natuurlik slaggereed om op hul beste te lyk by hierdie geleentheid, waaronder Old Nectar, Babylonstoren, Hawksmoor, Schoongezicht by Rustenberg en Aspidistra en Bonne Esperance. Daar sal ook werksessies, praatjies en toere aangebied word.
Werksessies sal ook in Stellenbosch-kloof se Canettevallei – bekend vir sy laventelprodukte – plaasvind, terwyl die Joostenberg-wynlandgoed ’n lente-plaaswandeling en Boschendal begeleide staptoere sal aanbied.
Paul Roos Gimnasium bied ook vanjaar die AFGRI Lentemark van Saterdag 22 Oktober by die Markötter-sportkompleks aan. Die buitelugmark sal fokus op kos, wyn, tuin en tuisprodukte.
. Vir meer inligting en besprekings, sien VisitStellenbosch.org of skakel 021 886 4310.