Die Blue Dot-taxidienste sal amptelik teen die einde van die maand beëindig word omdat die Wes-Kaapse regering nie die geld het om die dienste verder te finansier nie.


Die Blue Dot-taxidienste sal amptelik teen die einde van November beëindig word omdat die Wes-Kaapse regering nie geld het om die dienste verder te finansier nie.

Blue Dot is ’n aansporingsprogram en is daarop gemik om taxibestuurders te beloon vir verbeterde bestuurdersgedrag en hoër diensgehalte, terwyl die vermindering van onwettige bedrywighede en konflik aangemoedig word. Meer as 1 000 taxi’s reg oor die provinsie is deel van die projek.

Die nuus van die beëindiging van die projek het talle taxi-eienaars en -bestuurders ontstel.

Mandla Hermanus, die voorsitter van die SA Nasionale Taxiraad (Santaco), sê hulle is ongelukkig oor die besluit om die projek te staak.

“Ons is ongelukkig en teleurgesteld oor die provinsiale regering se besluit. Ons glo as hulle die wil en toewyding het om die bedryf te transformeer en te subsidieer, sal hulle maklik die nodige finansiering kan vind.”

Nadat die Wes-Kaapse kabinet die projek in September 2020 onderskryf het, het die Blue Dot-dienste in Mei 2021 amptelik in werking getree. Die provinsiale regering het die afgelope 18 maande R215 miljoen in die projek belê.

Elke taxi wat deel van die projek is, is nagegaan om te kyk of dit veilig is en het ’n groot blou plakker op waaraan dit uitgeken kan word. Opspoorders is in die voertuie geïnstalleer, wat die departement in staat stel om die taxi’s te monitor.

Pendelaars wat gebruik maak van ’n Blue Dot-taxi, kan hul terugvoer oor die spesifieke taxi waarin hy/sy vervoer is, aan die departement stuur. ’n WhatsApp-lyn en USSD-funksie is hiervoor opgestel waarheen die terugvoer saam met die taxi se unieke Blue Dot-kode gestuur kan word.

Daylin Mitchell, die LUR vir mobiliteit, sê die minibustaxibedryf vervul ’n kritieke rol in die Wes-Kaapse ekonomie. Hy sê taxi’s verteenwoordig 75% van alle openbare vervoerdienste en vervoer daagliks datsowat twee miljoen pendelaars.

“Ons het gewys dat die Blue Dot-loodsprojek werk, en goed werk. Ons het egter die steun van die nasionale regering nodig om die voortsetting en uitbreiding van hierdie kragtige program te finansier. Die finansiering van hierdie program is die mandaat van die nasionale departement.

Aangesien die spoordienste in Suid-Afrika amper in duie gestort het, wys hierdie program hoe ons vinnig kan ingryp om die openbarevervoerbedryf te verbeter– hierdie loodsprojek wys hoe jy die spel kan verander.”

Die dienste het die afgelope paar maande goeie resultate opgelewer. Volgens Mitchell het 82% van pendelaars in ’n peiling gesê hulle voel veiliger wanneer hulle ’n Blue Dot-taxi; ’n verdere 78% het saamgestem dat taxi’s wat deel is van die program beter is; en 88% van pendelaars sê dat die Wes-Kaap meer Blue Dot-taxi’s nodig het gebruik.

Die nasionale departement van vervoer het egter, by monde van Lwazi Khoza, minister Fikile Mbalula se woordvoerder, gesê begrotingstekorte raak almal, insluitend die nasionale vervoer­departement.“Ons het net nie genoeg om huidige programme en projekte te onderhou nie”.

You need to be Logged In to leave a comment.