Die onoorwonne eerste span van Blue Stars United van Klapmuts, wat as die kampioene van die Suidelike liga gekroon is.


Klubrugby-ligawedstryde word Saterdag (20 Julie) hervat nadat dit verlede week weens gure weer en onspeelbare velde deur die Westelike Provinsie-rugbyunie opgeskort is.

Die naweek se wedstryde sal bepaal of die voorlopers in die onderskeie ligas hul momentum verloor het.

In ’n verklaring deur die unie se bestuurder van klubrugby, Faizel Felton, is die opskorting van die wedstryde gedoen om spelers se veiligheid te verseker en om die versoeke van die onderskeie munisipaliteite om weg te bly van die onspeelbare velde, te eerbiedig.

Felton doen nou ’n beroep op die klubs wie se ligaverpligtinge geraak is om onderling met mekaar te reël vir ’n datum wat albei spanne pas en die unie van die nuwe datum in kennis te stel.

Stellenbosse spanne wat in Superliga B meeding, is almal dié week in aksie, behalwe Van der Stel-Evergreens (VDE), wat ’n loslootjie het.

VDE sou die afgelope Saterdag teen All Saints in Somerset-Wes gespeel het. VDE het die vorige week teen Hamediehs op sy tuisveld met 33-21 verloor en wou dié nederlaag teen All Saints ongedaan maak.

VDE se volgende wedstryd is Saterdag 27 Julie teen Kraaifontein, tans tweede ná VDE op die punteleer, in Kraaifontein. Dit sal ’n beslissende wedstryd wees om te bepaal of VDE sy plek boaan die punteleer gaan behou om vir die topses te kwalifiseer.

Kraaifontein, VDE en Hamediehs loop die afgelope drie jaar saam die paadjie in hul opmars na Superliga A en die Kraaie het juis vir Hamediehs op sy baadjie gegee. Kraaifontein sal oorgehaal wees om dieselfde met VDE te doen wanneer hulle mekaar pak, maar dalk is die blaaskans vir VDE net die regte inspuiting om goed voor te berei.

Kraaifontein reis die komende naweek na Kylemore, terwyl Franschhoek na Mamre reis vir sy wedstryd teen Hamlets.

In Superliga C pak Pniël Villagers vir Goodwood tuis, voordat Eersterivier die volgende week ook die stryd tuis aangesê word.

Alle ligaverpligting in die Noordelike, Suidelike en Stadsligas is afgehandel en die drie topspanne in elke liga gaan nou meeding in die promosie/relegasie-kompetisie (topnege).

Die nege spanne wat in die kompetisie meeding, het verlede week in Nuweland vergader om die trekking te doen en hulle sal meeding vir ’n plek in Superliga C in 2025. Die onderste ses spanne in elke liga sal vir hul onderskeie streke se tweederonde-beker speel. Die wedstrydbepalings vir dié kompetisie is nog nie bekend gemaak nie.

Die nege spanne wat in die topnege gaan speel, is Albions, Delft, Sir Lowrians, Blue Stars, Caledonian Roses, Watsonia, Silvertree, Young Wesleys en Violets. Blue Stars van Klapmuts sal die Stellenbosch-omgewing se vlag in die kompetisie moet laat wapper nadat hy in al sy wedstryde in die Suidelike liga onoorwonne was.

Stellenbosch-Coronations, Excelsior en Raithby Universals sal in 2025 weer in die Noordelike liga moet meeding.

You need to be Logged In to leave a comment.