Blue Stars en Corries gerat

Stellenbosse spanne het nie vanjaar ‘n verskoning om nie die Noordelike liga van die Westelike Provinsie-rugbyunie te wen nie.


Stellenbosse spanne het nie vanjaar ‘n verskoning om nie die Noordelike liga van die Westelike Provinsie-rugbyunie te wen nie, want altesaam vier uit die nege spanne kom uit dié omgewing.

Die Noordelike liga is een van drie ligas in die streekskompetisie en staan bekend as die begraafplaasliga, omdat spanne maklik vyf jaar daar speel voordat hulle opskuif na Superliga C.

Die ander twee ligas is die Suidelike en Stadsliga, waar spanne van die suidelike en noordelike voorstede in aksie is.

Die spanne wat vanjaar in die Noordelike liga gaan meeding, is Stellenbosch-Coronations, Blue Stars (Klapmuts), Excelsior, Raithby Universals, Albions, Gordonsbaai Pioneers, Sir Lowrians, Whistling Wheels en Windmeul.

Ondersteuners van die verskillende spanne kan uitsien na goeie derbies, want elkeen van die vier Stellenbosse spanne wil die spogregte as wenners van die liga aan die einde van die seisoen hê.

Gegrond op verlede jaar se vertonings in die Noordelike liga het Stellenbosch-Coronations die beste van die Stellenbosch-spanne gevaar en heeljaar goed

rekenskap gegee, maar teen die einde het die wiele afgekom. Beserings aan sleutelspelers op kritieke tye het die span van Idasvallei in die stof laat byt.

As die foute van verlede jaar in die vriendskaplike wedstryde uitgesorteer is, is Corries beslis ‘n aanspraakmaker om die liga te wen.

Blue Stars het in die Stadsliga meegeding en moes reis om sy ligaverpligtinge na te kom, maar vanjaar kuier hy naby die huis en die ander spanne sal hom moet dophou. Soos Corries het Blue Stars ook die toon in die Stadsliga aangegee, maar ook teen die einde van die seisoen sy alie gesien.

Excelsior en Raithby Universals sal met Corries en Blue Stars wil saampraat oor wie die spogregte in Stellenbosch sal hê. Albei sal nie toelaat dat oor hulle geloop word in die liga nie, want hulle droom ook om volgende jaar in Superliga C te speel.

Vir al vier spanne sal hul vertonings in die liga van groot belang wees om die top-9 te haal. Die top-9 word saamgestel deur die drie spanne wat in al drie ligas die eerste drie plekke op die punteleer beklee, wat uitspeel om te bepaal wie die twee wenners is wat na Superliga C bevorder word. In die top-9 word die kaf van die koring geskei, want teen dié tyd dat die uitspeelwedstryde ná ‘n harde seisoen beslis word, is van die spelers al vodde en dis dán wanneer die span wat op die dag van die uitspeelwedstryde dit die meeste wil hê, beloon word.

Die spanne in die liga is nie onbekend aan mekaar nie. Deur die jare het hulle al teen mekaar gespeel en ken mekaar se swakhede en sterk punte.

Maar soos al deur die jare bewys is, jy kan nie spanne op verlede jaar se vertonings takseer nie. Dis ‘n nuwe jaar met nuwe uitdagings.

Boonop het spanne ook nuwe aanwinste bekom. Jong en senior spelers as kombinasies is in die vriendskaplike wedstryde getoets. Nuwe bestuurspanne met nuwe idees en wedstrydplanne is ook deel van die klubs se mondering om vanjaar beter te vaar.

Die WP-klubrugbyseisoen begin dié week en eindig in September, met die eerste wedstryde wat Saterdag (6 April) gespeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.