Blue Stars United van Klapmuts wil weer vanjaar die leer na Superliga C klim nadat al drie sy spanne die Suidelike liga gewen het en die eerste span van Saterdag (27 Julie) in die topnege, of die Promosieliga, gaan meeding.
Volgens die afrigter, Eddie Cloete, het Blue Stars tot dusver ’n redelik goeie seisoen beleef. “Ons het eerstens gekyk dat ons groep van 25 spelers fiks is en het ook verduidelik dat ons eerste doelwit is om die topnege te haal,” sê hy.
“Om te verseker dat ons die doelwit bereik het, het ons gewerk aan die samespel tussen die voor- en agterspelers, gekyk na ons verdedigingslyne en om by die nuwe rugbyreëls aan te pas. Die losskakel Ethan Smith was ons uitstaande speler; hy het die spel dikteer en seker gemaak dat die taktiek en spel soos op die oefenveld ingedril is, in die wedstryde uitgevoer word.”
Volgens Cloete sien Blue Stars uit na die topnege en die meeste spanne in die liga het nog nie teen mekaar gespeel nie, omdat net die topdrie van die Suidelike, Noordelike en Stadsliga gekwalifiseer het om vir promosie na Superliga C in 2025 te speel.
Die kompetisie skop die komende naweek af en die wenner sal bepaal word deur die drie spanne wat die graagste Superliga C-status wil bereik.
“Ons het Superliga C in die verlede gespeel en ons hoop ons kan die leer weer klim, met Smith wat ons gaan help om ons momentum verder te vat,” sê Cloete.
Die nege spanne wat van Saterdag in die topnege gaan meeding, is Blue Stars, Albions, Sir Lowrians, Delft, Caledonian Roses, Violets, Watsonia, Silvertree en Young Wesleys.
Blue Stars reis Saterdag na die Helderberg om kragte met Sir Lowrians in Sir Lowry’s Pass te meet.
In die Superliga-kompetisies van die Westelike Provinsie-rugbyunie is die meeste klubwedstryde gekanselleer weens onspeelbare velde en die stormweer wat die Wes-Kaap die afgelope twee weke geteister het. Uitsluitsel oor of die wedstryd op munisipale velde die naweek gaan plaasvind, sal aangekondig word, afhangende van die weerstoestande teen die einde van die week.
Die spanne se wedstryde is die afgelope twee Saterdae uitgestel en klubs moes onderling met mekaar reël oor wanneer die wedstryde gespeel gaan word en die klubs moet ook die unie in kennis stel van die nuwe datums.
In Superliga B het Van der Stel-Evergreens (VDE) die afgelope naweek ’n loslootjie gehad en is sy wedstryd van die vorige Saterdag (13 Julie) teen All Saints uitgestel tot Saterdag 10 Augustus. VDE is tans die voorloper in die liga en speel Saterdag weg teen Kraaifontein, as die speelvelde deur die munisipaliteite geskik verklaar word.
Daarna speel VDE tuis teen UWK en die uitgestelde wedstryd teen All Saints die daaropvolgende Saterdag.
Kylemore pak Collegians dié naweek en sy wedstryde teen Hamediehs en Kraaifontein is ook uitgestel. Franschhoek het ’n loslootjie en sy wedstryd teen Hamlets sal later gespeel word.