Die provinsiale departement van gesondheid en welstand gee hierdie winter voorkeur aan die gesondheid en veiligheid van pasiënte.
Met die aankoms van die seisoen gebruik baie mense gesondheidsdienste ten spyte van die koue, nat toestande. Dié tyd bring sy eie uitdagings, maar die departement het pasiënte verseker dat ’n besoek aan hul plaaslike kliniek en gemeenskapsdagsentrum veilig en gerieflik is.
Gesondheidsfasiliteite reg oor die provinsie maak gebruik van afspraakstelsels sodat pasiënte nie so lank hoef te wag nie. Hulle raai mense aan om slegs 30 minute voor hul afspraak na die fasiliteit te gaan.
“Jy moet weet hoe laat jy moet kom,” sê sr. Elanza Williams van die departement se span in die Drakenstein. “Dienste begin om 07:30. Asseblief, vermy die koue en kom net na die kliniek of gemeenskapsdagsentrum tussen 07:30 en 16:00.”
Haar kollega in gesondheidsorg, Lulamile Wawini, wat in Witzenberg gebaseer is, stem saam. “Moenie jouself onnodig blootstel aan koue oggende nie. Kom sodra die fasiliteit oop is, of 30 minute voor jou afspraak,” sê hy.
Alfonso Patientia, die bestuurder van primêre gesondheidsdienste vir klinieke in die noordelike en Tygerberg-subdistrikte, moedig inwoners aan om gebruik te maak van die afspraakstelsel en uit te reik na plaaslike bestuurders as hulle enige bekommernisse het.
“Namate ons deur die winter en sy uitdagings beweeg, is dit belangrik dat ons voorkeur gee aan die veiligheid en welstand van mense wat ons fasiliteite besoek – veral dié van senior burgers en ander kwesbare groepe,” sê Patientia.
“Ons vra dat jy slegs 30 minute voor jou afspraak kom sodat jou wagtyd korter is. Vir jou eie veiligheid vra ons ook dat almal die fasiliteit net besoek wanneer dit oop is. As jy ongelukkig is met jou ervaring by ons plaaslike klinieke, laat weet ons deur die regte platforms gebruik, soos om met die fasiliteit se bestuurder te praat, jou voorstelle neerskryf en in die boksie in die fasiliteit gooi, praat met jou kliniekkomitee of reik uit na die provinsiale sentrum waardeur ons kliënte ondersteun en deel jou besware.”
Hier is nog maniere om hierdie winter warm en veilig te bly:
- Vermy lang rye: Gebruik die departement se afspraakstelsel eerder as om vroeg in die koue en nat omstandighede in ’n ry te staan. As jy ’n afspraak maak, is jou ervaring beter van die oomblik af wat jy by ons aankom.
- Kom die regte tyd: Daag net voor jou afspraak op. Só help jy ons om rye te bestuur en dit verkort almal se wagtyd. As jy nie jou afspraak kan nakom nie, bel en herskeduleer.
- Voorkeur aan kwesbare groepe:Die departement verstaan dat dit belangrik is om kwesbare mense soos seniors en kinders in die koue te beskerm. Wees asseblief simpatiek wanneer gesondheidswerkers kwesbare pasiënte so ver as moontlik eerste help.
- Veiligheid eerste: Jou veiligheid is vir die departement belangrik. As jy in die donker in ’n ry begin staan, is daar veiligheidsrisiko’s. Die departement vra dat jy so ver as moontlik eers 30 minute voor jou afspraak opdaag. Op hierdie manier is jy meer sigbaar en oor die algemeen veiliger.
- Praat met ons; word gehoor: Jou terugvoer is belangrik, ongeag of dit oor lang rye of ongemak in die koue weersomstandighede is. Maak voorstelle oor hoe die departement sy dienste kan verbeter. Die departement is vasberade om te luister en dienste te verbeter. Help hom om dit beter te maak deur jou terugvoer met ons fasiliteite se bestuurders te deel.
Wat van toegang tot noodsorg?
Jy kan by jou naaste hospitaal toegang tot noodsorg kry. Onthou, die departement gebruik die triage-stelsel. Wanneer jy by ’n gesondheidsfasiliteit kom, word jou toestand eers ontleed. Pasiënte word dan gesien volgens die dringendheid van hul toestand. Pasiënte word as groen, geel, oranje, of rooi geklassifiseer (met rooi wat die ernstigste toestand aandui).
As jou kleurkode geel of groen is, is jy nie in ’n lewensbedreigende toestand nie, dus beteken dit jy sal langer wag vir hulp as iemand wat by ongevalle inkom – veral oor ’n besige naweek of na-ure.
Bly hierdie winter gesond by die huis
Behalwe dat jy moet voorberei vir jou besoek aan ’n gesondheidsfasiliteit, is dit ook belangrik dat jy omsien na jou algehele gesondheid in hierdie kouer tyd. Onthou om proaktief te wees deur die inenting teen griep by ’n private diensverskaffer te neem.
“Voorkoming is beter as genesing, want antibiotika is nie doeltreffend teen virale infeksies soos griep nie. Jou liggaam moet die virus bestry en klop om jou van die virus te genees,” sê een van departement se aptekers in die Kaapse Wynlande, Liana Horn. “Help jou liggaam om jou teen ernstige siekte te beskerm deur ons wenke te volg.”
Wenke hoe om hierdie winter veilig te bly, sluit in:
- Goeie higiëne: Was jou hande gereeld met seep en water, vir minstens 20 sekondes, veral nadat jy gehoes of genies het, of as jy aan voorwerpe of oppervlaktes wat baie mense gebruik, gevat het. Help kinders om hande te was, en leer hulle oor die belangrikheid daarvan.
- Bly aktief: Oefen gereeld! Dit versterk jou immuunstelsel en verbeter jou algehele gesondheid. Selfs eenvoudige aktiwiteite soos om te stap of te strek, kan ’n verskil maak. Sluit aan by ’n oefengroep in jou gemeenskap, as dit moontlik is.
- Volg ’n gebalanseerde dieet: Wees goed vir jou liggaam deur gesonde kos te eet. Jy help jou immuunstelsel deur voedsel te eet wat ryk is aan voedingstowwe. As jy hulp nodig het, praat met ’n gesondheidswerker.
- Bly gehidreer: Jy beskerm jou gesondheid as jy genoeg water drink deur die dag. Probeer om elke dag minstens agt glase water te drink.
- Rus genoeg: Slaap behoorlik! Probeer om elke aand minstens agt ure hoëgehalte slaap te kry. Jou liggaam kan infeksies makliker beveg as jy genoeg rus kry.
- Bestuur jou spanning: Kry gesonde maniere om jou spanning te hanteer, soos om met iemand wie jy vertrou, te praat of aan aktiwiteite wat jy geniet, deel te neem. As jy nodig het om met iemand te praat, onthou dat jy na ’n gesondheidswerker kan uitreik.
- Gebruik jou medikasie: Dit is belangrik om aan te hou om jou medikasie te gebruik, selfs al voel jy beter. Gebruik jou medikasie soos deur jou gesondheidswerker voorgeskryf. As jy enige vrae oor jou medikasie het, reik asseblief uit; praat met ’n gesondheidswerker of bel jou kliniek.
Help die departement om jou hierdie winter gesond en veilig te hou.
Jou welstand begin by jou – en ons. Onthou om uit te reik as jy vrae of bekommernisse het.
As jy ongelukkig is met jou ervaring by enige plaaslike klinieke, kan jy ook die volgende platforms gebruik om jou besware te deel:
- SMS: Stuur die woord “help”, asook jou naam en jou voorstel of klagte met die naam van die fasiliteit of personeellid na 31022.
- Bel 0860 142 142 en druk “1” om met ’n verteenwoordiger te praat.
- Stuur ’n “please call me” na 079 769 1207 en ’n verteenwoordiger sal jou terugskakel.
- Stuur jou bekommernisse per e-pos na service@westerncape.gov.za.
- Gee jou terugvoer anoniem: Deel jou bekommernisse deur jou naam by te voeg of anoniem te bly. Skryf jou terugvoer neer en gooi dit in die boks vir klagtes of komplimente by jou gesondheidsfasiliteit.