Beyers “Mnr. Pinotage” Truter vertel van sy lewe in die boek Stofpaaie in ‘n wynglas.

Die lewe tussen die wingerde en in kelders is neergepen in ‘n lekkerleesboek oor die lewe van “Mnr. Pinotage”, Beyers Truter self, wat pas bekend gestel is.

Stofpaaie in ‘n wynglas (Traildust in a wine glass) is saamgestel deur Riaan Gerber en vertel van Beyers en die wynplaas Beyerskloof se geskiedenis. Beyers het internasionale roem as wynmaker verwerf toe hy in 1992 as Wynmaker van die Wêreld aangewys is, maar die boek gaan nie oor hom as wynmaker nie – dit vertel van die pad wat Beyers saam met sy familie, vriende, kollegas en die gemeenskap gestap het.

“My storie as wynmaker kan ek saamvat in een woord – traildust,” meen die wynmaker.

“Die storie van Beyerskloof is ook die storie van traildust. Die bekende skrywer-filosoof van talle Cowboy-boeke, Louis L’Amour, het die uitdrukking wat hy graag in sy boeke gebruik, ‘traildust is thicker than blood,’ en L’Amour het met daardie uitdrukking bedoel al die stof van die paaie waarop mense saam loop, lê dik aangepak op hul vel en die vriendskappe wat gesluit word deur mense wat die pad saam met jou loop, kan eintlik nooit van jou vel af gewas word nie. Traildust in daardie betekenis is die hoeksteen van my loopbaan as wynmaker,” meen Beyers.

Hy vertel sy loopbaan was nooit ‘n “one man show” nie, maar liewer ‘n spanpoging saam met die familie, plaasmense, kollegas, wynmakers, winderboukundiges en vriende. “Die stof van die paaie wat ek met almal gestap het, lê nog dik aangepak op my.”

Beyers sien altyd die humor in situasies raak, en daar is volop daarvan in die boek – soos toe hy vir Van der Stel-rugbyklub teen een van die bekende Etzebeth-rugbybroers moes skrum, asook toe hy die oud-Springbokflank Jan-Boland Coetzee se bas by ‘n wynproe moes red toe die “Rooi Taal” Jan-Boland laat struikel het.

Hy vertel onder meer van die talle wyntoere wat hy en Jan-Boland saam met die onnutsige oud-Springbokrugbyspeler Jannie Engelbrecht asook Kevin Arnold en Johan Malan meegemaak het.Daar is ook vertellings oor sy liefde vir duik, seekos-resepte, Nambië en sy Angola-wynavontuur.

Die boek is by verskeie boekwinkels asook by Beyerskloof te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.