Geskiedenis van Stellenbosch-gholfklub in boek neergepen

’n Boek oor een van die heel oudste gholfklubs in die land, Stellenbosch-gholfklub, is onlangs bekend gestel.


’n Boek oor een van die heel oudste gholfklubs in die land, Stellenbosch-gholfklub, is onlangs bekend gestel.

Die boek met die titel Stellenbosch-Gholfklub 1904 -1920, is geskryf deur Riaan Gerber, bekende gholfrubriekskrywer van Die Burger asook jare lange lid van die gholfklub.

Nadat die Victoria Kollege (voorloper van die Universiteit Stellenbosch) in 1887 gestig is, is ’n klompie Skotse akademici aangestel om op Stellenbosch klas te gee. Onder hierdie akademici was prof. J.T. Morrison.

Prof. Morrison en sy Skotse kollegas was almal ywerige gholfspelers en het in 1894 op ’n oop stuk grond, wat destyds bekend gestaan het as Die Vlakte, begin om informele gholf te speel. Vandag huisves hierdie terrein onder meer die US se ingenieursfakulteit.

Op 27 Julie 1904 is die stigtingsvergadering van die Stellenbosch-gholfklub gehou en op die vergadering word prof. Morrison as eerste klubkaptein verkies.

Die Vlakte was die tuiste van die Stellenbosch-gholfklub tot Januarie 1953. Die nuwe (huidige) baan is opgerig by ’n bekende landmerk van daardie tyd, genaamd die Klipkoppie.

In die boek word elke jaar se hoogtepunte en mylpale uitgelig, asook erkenning gegee aan lede wat ’n groot bydrae tot die klub gelewer het.

’n Hoogtepunt in die klub se geskiedenis was in 1986 toe die klub sy eerste Sonskynreeks-toernooi, die Safmarine Meesters, aangebied het.

Die kersie op die koek was in 1999 toe Stellenbosch-klub die groot eer ontvang het om die tuiste te wees vir die SA Ope-toernooi. Heel gepas het David Frost, wat sy gholf as jong seun op die Stellenbosch-baan geleer het, dié toernooi gewen.

Die vroue-afdeling by die Stellenbosch-klub staan vandag baie sterk en in die boek word erkenning gegee vir die groot rol wat vrouelede soos Hildegarde Morrison, Bunny Spottiswoode en Babs van Heerden gespeel het om vroue-gholf by die Stellenbosch-klub te bevorder.

In die boek is daar ook ’n hoofstuk oor die “Baanbrekers”. Dit vertel die verhaal van jong seuns wat hul gholf as joggies op die Stellenbosch-baan geleer het, en daarna uitblinker-spelers geword het. Een van die baanbrekers was James Newman wat in 1984 sy Boland-kleure verwerf het.

In die hoofstuk oor die klubkampioenskappe is twee name wat uitstaan, prof. Bennie Keet van die Kweekskool en die plaaslike tandarts, dr. Dewald Botha. Keet is tussen 1930 en 1951 11 keer as kampioen gekroon, terwyl Botha ook 11 keer klubkampioen was.

Daar is ook ’n hoofstuk oor die interessante bome op die baan. Hierdie hoofstuk is geskryf deur Nico Laubscher, lid van die klub en ’n boomkenner.

Leon de Wit, president van die gholfklub, sê vir meer as 100 jaar vorm die gholfklub ’n integrale deel van Stellenbosch as dorp.

“Dit is vir ons as klub, maar ook vir Stellenbosch as dorp, baie belangrik dat hierdie geskiedenis opgeteken kon word sodat dit nie ‘wegraak’ nie. Die boek is nie net vir lede geskryf nie, maar ook vir alle inwoners van Stellenbosch en belangstellendes.”

. Die boek is by die gholfklub beskikbaar asook by africansunmedia, Takealot, Google Books en Amazon. Die boek is ook in Engels gepubliseer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.