Boek oor kerk sien die lig

Die geskiedenis van die Verenigde Gereformeerde kerk in Stellenbosch, sedert 1905 tot 2009, is deur ds. Jaco Coetsee in ’n boek neergepen en vertel die verhale van die gemeentelede van die Cloetesville- en Idasvallei-gemeente.


Die geskiedenis van die Verenigde Gereformeerde kerk in Stellenbosch, sedert 1905 tot 2009, is deur ds. Jaco Coetsee in ’n boek neergepen en vertel die verhale van die gemeentelede van die Cloetesville- en Idasvallei-gemeente.

Die boek, Die Here sal Voorsien, is verlede Donderdag (25 Augustus) bekend gestel. “Die titel van die boek is gegrond op die hoeksteen van die NG Moedergemeente wat in 1975 aangebring is toe die gemeente deur ’n moeilike tyd gegaan het,” sê Coetsee. “Dit is ’n geloofsuitspraak en oortuiging wat deur die gemeente se boukomitee uitgedink en voorgelê is.”

In die boek deel Coetsee sy ervaring van die gemeentes oor die jare heen, onder meer die jaar 2009 toe die Idasvallei-gemeente van die Cloetesville-gemeente afgestig is. “Daar was talle uitdagings oor die jare heen, maar God het ook altyd voorsien.”

Die fasiliteerder van die boekbekendstelling, ds. Bossie Minnaar, het die boek beskryf as ’n ongelooflike historiese stuk. “Hier is baie goeie statistieke, data en inligting, soos begrafnisse, doop, aannemings en troues, van die gemeentelede oor die jare heen. As leser kan jy sien dit is feite uit die argiewe,” voeg Minnaar by.

Coetsee sê sy navorsing het begin by sy eerste huisbesoek toe hy as jong dominee 45 jaar gelede by die Cloetesville- gemeente begin het.

“Om die inligting en data vir die boek bymekaar te kry, was nie moeilik nie. Ek het van dag een af dokumentasie gehou en die kerk hou ook redelik goed rekord van alles oor die jare heen. Van die honderde foto’s wat in die boek verskyn, kom van die mure van die gemeentelede se huise af,” voeg Coetsee by.

Dit het Coetsee drie tot vier jaar geneem om die boek klaar te skryf. “Ek het begin skryf met my aftrede. Ek wou ook die boek sonder kommentaar skryf omdat ek dit nie ’n akademiese boek wou maak nie. Daar is egter nog baie ongeskrewe verhale wat nie in die boek opgeteken is nie. En ek wens ek het vroeër aan die boek begin skryf.”

Die huidige leraar van die Cloetes­ville-gemeente, ds. Clive Jacobs, het Coetsee geprys vir die boek en gesê “die geskiedenis en ryke fondasie wat jy vir ons gelos het om op voort te bou is kosbaar”.

.
Vir inligting oor die boek bel Coetsee by 082 850 8858.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.