Suid-Afrika se oorgangsgeskiedenis tot ’n demokratiese land is kompleks en ingewikkeld sê Pieter du Toit, skrywer van Enemy of the StateenStellenbosch Mafia, wat onlangs ook sy nuwe blitsverkoper The ANC Billionairesbekend gestel het.
Dié oud-Paul Rooser wil met sy jongste boek help om ’n groter begrip vir Suid-Afrika se oorgangsgeskiedenis te skep en hy wil hê mense moet beter verstaan hoekom ons vandag is waar ons is as ’n land. “En ek wou ’n storie vertel wat nog nooit vertel is nie – hoe groot kapitaal ’n rol gespeel het om die demokratiese oorgang te bewerkstellig,” voeg hy by.
The ANC Billionaires is verlede Donderdag (17 November) by Du Toit se alma mater, Paul Roos Gimnasium, se Markötter-sportkompleks bekend gestel met ’n vraag- en antwoordsessie wat deur Eugene Ashton, uitvoerende hoof van Jonathan Ball Uitgewers, gelei is.
Du Toit sê sy kernboodskap is dat ons oorgangsgeskiedenis baie kompleks en ingewikkeld is, dat mense nie die konteks moet vergeet waarbinne ons ’n demokrasie geword het nie en daarmee saam die belangrike rol wat groot kapitaal en besighede soos Anglo American gespeel het om ’n demokrasie in Suid-Afrika te bewerkstellig.
Hy voeg by dit is ’n politieke en ekonomiese boek wat sal help om die politieke en ekonomiese omgewing te verstaan. “Die politiek en die ekonomie is ineengevleg en deel van mekaar. Hulle kan nie sonder mekaar bestaan nie. Dis ’n politiek-ekonomiese stuk geskiedenis en hedendaagse politieke ontleding.
“Ek hoop die inligting wat ek in hierdie boek oordra aan lesers help mense om ingeligte besluite te maak oor waar hulle betrokke moet raak in die samelewing en in hul gemeenskappe en natuurlik waar hulle in die volgende verkiesing hul kruisies moet maak. Ek wil natuurlik vir niemand voorskryf vir wie hulle moet stem nie, want dit is ’n waardevolle stuk gereedskap om ons demokrasie te rig. Ek wil nie vir mense voorskryf nie, maar bemagtig met inligting om beter besluite te neem.”
Du Toit meen enigiemand wat belangstel in die toekoms van Suid-Afrika en ’n aandeel het aan wat in ons land gebeur, moet hierdie boek lees. “Want jy kan nie verstaan waarheen ons op pad is nie, as jy nie weet waarvandaan ons kom nie. So enigeen wat glo Suid-Afrika is sy land, moet hierdie boek lees, want dit sal hulle help om te verstaan waar ons nou is.”