Die afkraak-gedrag van boelies het vermoedelik verlede Donderdag (24 Maart) tot die vermeende selfdood van die 14-jarige Danisha Windvogel van Franschhoek gelei.

Haar ma, Geleisha Windvogel, sê hulle was onlangs by Hoërskool Franschhoek om boeliegedrag teenoor Danisha aan te meld. Sy en haar maats was die teikens van boelies, en Danisha was altyd die een wat vir haar vriende opgekom het, sê haar ma.

In die middae ná skool, wanneer Geleisha haar dogter vra hoe haar dag was, het Danisha swaarmoedig vertel van ander leerders wat onder die boelies deurgeloop het.

“Sy’t altyd gevra hoekom mense so lelik is om so lelik van ander te praat en gesê sy hou nie daarvan nie. Sy het basies ander se swaarkry op haar gedra en vir hulle opgekom.”

Geleisha beskryf haar dogter as ’n gelukkige kind wat altyd ’n glimlag op haar gesig gehad het. Nadat die voorvalle aangemeld is, het haar ouers gedink dit sal beter gaan en dat alles piekfyn met hul dogter is. “Sy was ’n happy-chappy-kind by die huis; vol lewe. Sy was ons grapjas. Sy het van musiek gehou en was glad nie depressief nie.”

Danisha het nog dae voor haar dood uitnodigings vir haar verjaarsdagpartytjie in Mei uitgestuur. Sy het haar ma as haar beste vriendin beskou en haar visie vir die partytjie met Geleisha gedeel.

“Haar glimlag en haar grappies is wat ek die meeste sal mis,” vertel ’n hartseer Geleisha.

Twee dae voor Danisha se dood het sy ’n inskrywing op haar Facebookblad gedeel wat lui: “Lord, correct me, direct me, and protect me”.

In nog ’n inskrywing wat sy op 2 Februarie gedeel het, staan: “Soms troos ek ander met die woorde wat ek self wil hoor.”

Geleisha pleit desperaat met ander ouers om na hul kinders te luister. Sy vra ouers moet met hul kinders praat en onmiddellik optree en hulp inroep. Hulle het nooit besef hoe groot die uitwerking van die afknouery op Danisha se skouers gerus het nie.

“Omdat sy so ’n happy-chappy-kind was, het sy vir ons gesê [van die boelies] en ons het dit by die skool aangemeld. Ons het agterna gedink als is fine. Ouers moenie dink kinders is alright nie, want hulle is nie. Hulle gee voor en sit ’n front op dat alles reg is. Die vorige aand was ons in die kerk en sy het met haar kop op my skouers gelê. Elke kind is seker perfek vir ’n ouer.”

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die Franschhoek-polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek. Hy sê die 14-jarige se lewelose liggaam is verlede Donderdag omstreeks 13:35 deur haar ouers by die huis gevind.

Danisha het nie ’n brief agtergelaat nie, maar haar familie het wel ’n video van haar op haar selfoon gekry. “Sy het net ’n video gelos wat ons op haar foon gekry het wat sê I’m going home; I’m going home. Dan sê dit verder Where is home? en dan wys sy [Danisha] na die lug. Dit is al wat ons op haar foon gekry het,” sê Galeisha.

Haar begrafnis is Saterdag om 09:00 by Keeromstraat 69 in Franschhoek, en dan 10:00 by VGK Franschhoek.

Danisha word oorleef deur haar ma, Galeisha, haar pa, Danver, ’n ouer suster, Naisha, en ’n jonger suster, Cataleya.. The degrading behaviour of bullies led to the suspected suicide of 14-year-old Danisha Windvogel from Franschhoek last Thursday (24 March).

You need to be Logged In to leave a comment.