Boemhof vereer toppresteerders

Anaïs Herman en Tia Bruwer, twee matrikulante aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het Woensdag (20 Oktober) met die twee mees gesogte pryse by die skool se prysuitdeling weggestap.


Anaïs Herman en Tia Bruwer, twee matrikulante aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het Woensdag (20 Oktober) met die twee mees gesogte pryse by die skool se prysuitdeling weggestap.

Anaïs, ’n boorling van Malmesbury, is die wenner van die Elize Coetzee-prys, wat ’n studiebeurs van R20 000 insluit en vernoem is na mej. Coetzee, ’n voormalige skoolhoof. Dié prys is deur wyle dr. en mev. Anton Rupert geskenk en word jaarliks aan ’n leerder toegeken wat behalwe vir buitengewone akademiese prestasie ook ’n goeie leier is en met goeie inbors, lojaliteit en inisiatief optree. Anaïs was vanjaar die voorsitter van die matriekkomitee en het vroeër vanjaar boonop ’n derde plek in die nasionale English Olympiad se afdeling vir eerste addisionele taal-sprekers ingeneem. Sy is ook vanjaar een van die ontvangers van die Milly King-wisseltrofee vir haar betrokkenheid by gemeenskapsinteraksie.

Tia, 2020-21 se hoofmeisie, was die ontvanger van die Bloemhofbondprys. Dit word jaarliks aan ’n leerder toegeken wat groot entoesiasme vir die skool se tradisies toon, ’n aktiewe rol in die skool vervul, haar klasmaats aanmoedig om by skoolgeleenthede betrokke te raak en die Bloemhofwaardes van omgee, werksetiek, afgerondheid, respek en integriteit uitleef. Die prys bestaan uit ’n wisseltrofee, ’n silwer armband en ere-lidmaatskap van die Bloemhofbond, die skool se oudleerdervereniging.

“Dié prys is nie bloot ’n toekenning vir ’n eenmalige prestasie nie, maar ’n erkenning van ’n entoesiastiese en lojale lewenswyse,” sê Maryna de Waal, skakelbeampte van die Bloemhofbond. “Die Bloemhofbond is trots om met Tia geassosieer te word.” Dit is ook die eerste keer in dié prys se geskiedenis dat die dogter van ’n oudleerder dit wen.

Vanjaar is spesiale melding gemaak van die Hermann en Annette Giliomee-geskiedenis-geld- en boekprys asook die nuwe Buhr-Giliomee beursfonds. Prof. Giliomee, ’n skenker en voormalige ouer van die skool, hoop dit sal bydra “tot die wonder van Afrikaans en die voortreflikheid van Bloemhof met wie [sy] familie sulke sterk bande het”.

Nita de Jager (gr. 12) is die eerste ontvanger van die Geskiedenis-geld- en boekprys en Mareli Botha (ook gr. 12) die eerste leerder wat deur die Buhr-Giliomee-beursfons bygestaan word.

Alexandra van der Spuy (matriek, 2019), Sibbie Smith (2020) en Cimòn van der Westhuizen (2020), drie oudleerders wat uitmuntend in die NSS-eksamen presteer het, is ook vir hul gesonde werksetiek vereer. Alexandra is 2019 en Sibbie 2020 se Dux-leerders en het elk die PricewaterhouseCoopers DUX-medalje ontvang. Geen prysuitdeling is in 2020 gehou nie, en daarom word Alexandra vanjaar vereer.

Weens die invloed van die Covid-19-pandemie op die skoolkalender is nie alle sport- en kultuurpryse vanjaar toegeken nie, maar leerders het wel erkenning gekry vir prestasies wat sedert Oktober 2019 verower is.

Die volgende spesiale pryse is wel toegeken:. Lenka Steenkamp (Liza Midgley-trofee vir erekleure in akademie, sport en kultuur oor ’n tydperk van vyf jaar). Anaïs Herman en Kiamé Smit (Milly King-wisseltrofee vir gemeenskapsdiens). Zara van der Westhuizen (Le Roux-wisseltrofee vir leierskap in Huis Bloemhof). Carlin Keuzenkamp (junior skoolburger van die jaar) en. Janca Human (senior skoolburger van die jaar).

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.