Boishaai bly bo

Die Paul Roos Gimnasium (PRG) o.19A rugbyspan het die afgelope naweek teen ’n sterk Hoër Jongenskool Paarl-span (Boishaai) vasgeval.


Die Paul Roos Gimnasium (PRG) o.19A rugbyspan het die afgelope naweek teen ’n sterk Hoër Jongenskool Paarl-span (Boishaai) vasgeval.

Die Paarliete het toegesien dat die manne van die Eikestad op eie bodem lelik klippe kou, met ’n oorwinning van 15-35.

Boishaai het sonder twyfel nie as die gunsteling na Stellenbosch gereis nie.

Die Stellenbossers is van meet af voorlangs behoorlik vasgepen en dit het meegebring dat die Boishaaiers ’n gerieflike voorsprong in die eerste helfte opgebou en die weg vir ’n oortuigende oorwinning gebaan het.

Die eerste 18 minute was die twee spanne kop-aan-kop, maar Boishaai het toe diep gedelf en danksy die leiding van sy kaptein en haker, Juan Smal, daarin geslaag om ’n voorsprong van 0-21 op te bou.

Smal het die jong span van Boishaai van voor na hul oorwinning gelei.

Dit was veral voorlangs waar die besoekers van die Paarl hul man teen ’n swaarder agttal moes staan.

Die wenspan se flank, Matthew Fick, het weer die veld vol gespeel. Hy sal gewis ’n sterk aanspraakmaker wees vir ’n posisie in die Westelike Provinsie se Cravenweek-span, danksy sy sterk vertonings die afgelope paar weke.

Boishaai se losskakel, Thurlon Williams, het die naweek sy blink gepoetste skopskoene aangehad en was suksesvol met al sy stelskoppe.

Hy, die skrumskakel, Juan Loots, en die buitesenter, Shah-Jehaan de Jongh, het agterlangs ook skitterende vertonings gelewer.

Voorlangs was die slotpaar, Ben Heydenrych en Van Heerden Pretorius, saam met hul kaptein en Fick ’n gedugte kombinasie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.