Die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal bereik Saterdag 25 Oktober sy hoogtepunt wanneer Afrikaans Amptelik 100 saam met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) die Feesmark en Makietie in die amfiteater teen die Paarlberg aanbied.
Hierdie fees vier nie net die afsluiting van ‘n monumentale jaar van vieringe nie, maar deel ook in die 50ste bestaansjaar van die Taalmonument – ‘n simbool van Afrikaans se erfenis en toekoms.
Dié groot dag word moontlik gemaak deur die samewerking van verskeie vennote, wat die geleentheid ‘n ware Bolandse viering maak: die Drakenstein-munisipaliteit, die Drakenstein-sakekamer, Enjoy Drakenstein, die ATKV, M4 Events en Nederburg Primêr.
Die feesmark beloof ‘n dag vol Bolandse geure en klanke – van tradisionele rieldans en volkspele, wat die gees van gemeenskap aanwakker, tot optredes deur Afrikaanse musiekkunstenaars wat die taal se diversiteit en kreatiwiteit vier.
Daarby wag Bolandse kos, eksklusiewe wyne en unieke uitstallers wat aan feesgangers ‘n eg plaaslike ervaring bied.
Die Feesmark & Makietie is meer as net ‘n viering – dit is ‘n getuienis van wat moontlik is wanneer gemeenskappe, instellings en vennote saamstaan vir Afrikaans.
Ondersteun ‘n skool: Instansies of individue wat betrokke wil raak, kan ‘n skool borg en jongmense se deelname moontlik maak. Kontak die organiseerders gerus deur ‘n e-pos aan [email protected] vir nog besonderhede te stuur.
Die publiek word genooi om die historiese dag te beleef. Bring jou gesin en vriende, kom dans saam, geniet die Boland se beste kos en wyn en wees deel van die Afrikaans Amptelik 100-afsluiting én die 50ste verjaardag van die Taalmonument.
Die feesvierings word van 11:00 tot 19:00 aangebied. Kaartjiepryse beloop R60; kinders 13 jaar en jonger geniet gratis toegang.
Besoek www.afrikaans100.org en koop jou kaartjie aanlyn.


