Die Boland-blindekrieketspan, bestaande uit spelers van klubs soos Van der Stel, Stellenbosch en Victorians van Worcester, was Sondag (1 Desember) te goed vir die span van die Westelike Provinsie in sy T20-wedstryd op die Gabriel Pharoah-sportterrein in Darling.
Boland het WP met agt paaltjies geklop nadat hy ’n telling van 160 vir ’n sege moes aanteken.
Volgens Frankford Williams, president van Boland-blindekrieket, bestaan die organisasie al 24 jaar.
Die unie is reeds in 2000 gestig.
“Die spelers van Boland kom hoofsaaklik van die Van der Stel-blindekrieketklub en die spelers kom van Stellenbosch, Eersterivier en Worcester, terwyl WP se spelers uit die suidelike voorstede, Bellville en die res van die skiereiland kom. Worcester se spelers is hoofsaaklik van Worcester en hulle word gevoed deur die Pionierskool en Hein Wagner-akademie in die dorp. Daar is ’n klubliga tussen die twee Boland-klubs asook die twee klubs van WP. Die spelers van Suid-Skiereiland kom van Grassy Park, Heideveld, Kenwyn, Ottery, Mitchells Plain en Plumstead. Daar is ’n klubliga tussen die twee Boland-klubs en die twee WP-klubs en hierdie seisoen speel elke klub slegs ses wedstryde,” aldus Williams.
Sondag se wedstryd in Darling was ’n bewusmakingswedstryd, maar is ook ’n geskeduleerde wedstryd vir die seisoen.
“Vir die eerste keer is blindekrieket in Darling gespeel en albei spanne het goed teen mekaar opgeweeg. WP se telling van 159/3 het ons aanvanklik laat kleitrap, maar toe Ferdi Boer en Shepherd Mangxaba voor die penne beland, het hulle die wedstryd uit die WP se greep gehaal en Boland die oorwinning besorg,” sê Williams.
“Saam met Jevon Marks, wat vroeg uit is, het hulle die telbord laat rol met hul houe deur die dekke. Bradley Hendricks was ook indrukwekkend tot dusver en hy het WP gewis met die bal getroef. Allanzo Mapoe moet ook dopgehou word, terwyl Dimitri Kayna en Ralton Pienaar ons sneltreine is.”
As dit by veldwerk kom, was Mangxaba goed en het sy lyf soos Jonty Rhodes rondgegooi en agter die paaltjies was Boer paraat. Albei is voormalige Suid-Afrikaanse krieketspelers met baie ervaring.
“Twee van ons spelers, Edrich Ter Haar en Réme Kampher, toer tans saam met die SA blindekrieketspan in Pakistan en is by die Wêreldbeker in aksie. Die SA-span sukkel en het teen Nepal en Sri Lanka vasgeval.”
Williams nooi gemeenskappe uit om hul wedstryde by te woon, want hulle sal eerstens leer hoe blindekrieket werk en wedstryde bied heelwat vermaak.
Die Suid-Skiereiland-klub is vanjaar gestig en het nie die nodige toerusting nie. Die span oefen Sondae op die Hoërskool Fairmount in Grassy Park se sportveld.
Volgens Abduragman Cassiem, afrigter van die WP-span, is die meeste van die spelers afhanklik van hul staatstoelae, wat nie genoeg is om ’n ekstra paar handskoene, beenskutte of enige ander kriekettoerusting te kan bekostig nie. Vervoer is die grootste uitdaging.
“Indien oud-krieketspelers toerusting het, of indien sakeondernemings wil inkoop by blindekrieket, is hulle welkom om my te bel. Ons sal enigiets waardeer – van ’n waterbottel tot ’n pet of sonhoed,” sê Cassiem.
Die wedstryd in Darling is moontlik gemaak deur die Swartland-munisipaliteit en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en ander borge, met die Darling-krieketklub wat geriewe beskikbaar gestel het.
- Kontant Cassiem by 060 752 2825 of Williams by 083 715 7546 om enige hulp te verleen.