Die Boland-veterane-krieketspan het sy staal gewys deur die afgelope naweek die plaat-kompetisie van die Interprovinsiale kriekettoernooi vir spelers ouer as 50 te wen.
Dié toernooi is by die Wanderers-krieketklub in Johannesburg gespeel en altesaam ses provinsiale spanne, onder meer Boland, Westelike Provinsie, Gauteng Leeus, Oostelike Provinsie (OP), Titans en Grens het vanjaar deelgeneem.
Die Boland-veteranespan het goed vertoon en drie uit sy vier wedstryde gewen. In die openingswedstryd van die toernooi het die Bolanders Grens met 25 lopies geklop danksy ’n uitsonderlike boulvertoning deur James Albanie (5-37-9-1) en Aqeel Cupido (3-34-9-1). André Geldenhuys het met die speler van die wedstryd-toekenning vir sy puik vertoning van 138 lopies met die kolf weggestap. Hy is goed bygestaan deur Kenny Jackson wat 76 lopies aangeteken het.
In die span se tweede wedstryd het die Bolanders teen Gauteng vasgeval en is vir 173 almal binne 43 boulbeurte uitgeboul. Gauteng het die teiken gemaklik afgeslaan en binne 38.1 boulbeurte 174/4 aangeteken.
Die Bolanders het nie toegelaat dat die nederlaag hulle stuit nie en goed teruggekap met ’n gemaklike oorwinning teen OP.
Die span het OP vir 168 in 44.1 boulbeurte uitgeboul. Cupido (3-28-9-2) en Gavin Stander (3-21-8.1-2) het goed met die bal vertoon terwyl Jacques Engelbrecht (86) en Geldenhuys (55) die wa met die kolf in die hand deur die drif getrek het.
Engelbrecht is ook as die speler van die wedstryd aangewys.
Dit was egter Saterdag 15 Oktober toe die manne in goud en swart karakter getoon het in ’n naelbytwedstryd toe die hulle Grens met ’n enkele lopie geklop het om met die plaat-trofee weg te stap.
Boland het eerste gekolf en 264/7 in sy toegelate 45 boulbeurte aangeteken met Haydin Trollip wat ’n uitstekende 109 lopies aangeteken het en Dave Bakker wat ’n kapteinsbeurt van 68 lopies gemoker het.
Dit was egter die boulers wat die Grens-kolwers goed beperk het en goeie boulwerk in die doodsnikke van die wedstryd deur Albanie (2-60-9-0) wat die laaste spyker in die doodskis geslaan het.


