Twee Bolanders, Carl van Niekerk (van Somerset-Wes) en Angus Opperman (van Pniël), het Woensdagaand se episode van Koppestamp op kykNET gewen.Foto: Verskaf


Dit was ’n wen vir die span van die Boland in gisteraand (Woensdag, 9 Augustus) se episode van Koppestamp op kykNET toe die Strandlopers-span, wat uit Angus Opperman van Pniël en Carl van Niekerk van Somerset-Wes bestaan, as wenners uit die stryd getree het.

“Ek het ’n kans gevat toe ek die advertensie sien dat Koppestamp deelnemers soek,” sê die 30-jarige Angus.

“Carl het nie geweet ek het ons ingeskryf nie, maar ek het geweet hy sou game wees as ons gekies word. Ek het geglo ons staan ’n kans, maar daar is soveel mense wat ingeskryf het en dit was dus ’n eer dat ons gekies is.”

Het hulle ’n wedstrydplan gehad toe hulle gehoor het hulle is gekies?

“As dit by rugbykennis kom, is daar min mense wat meer as Angus weet,” sê Carl, ook 30 jaar oud en die eienaar van sy eie klein sakeonderneming.

“Angus antwoord die moeilike vrae en ek tel op wanneer hy die bal aanslaan. Ons het baie sterk opposisie gehad en het geweet dis alles of niks.”

Die twee het mekaar in ’n kuierplek ontmoet ná ’n wedstryd tussen die Stormers en die Lions. “Ons was twee Stormers-ondersteuners in ’n kuierplek en die res is geskiedenis. ’n WP-trui en bier sorg vir goeie vriendskappe en lekker tye. Proooovince!” skerts Carl.

Gevra hoe dit gevoel het om die episode te wen, sê Angus dit was ongelooflik. “Veral omdat ons teen ouens gespeel het wat ek weet die spel goed ken. Ons was in die wolke.”

Carl is meer filosofies. “Dis soos om die Sharks op Kingspark in die halfeindronde te klop. Baie lekker, maar daar is nog baie harde werk wat voorlê.”

Oor wie vanjaar die William Webb Ellis-trofee by die Rugbywêreldtoernooi gaan lig, verskil die twee vriende.

“My hart sê, soos altyd, die Springbokke,” sê Angus. “Maar enige van die top-4 lande kan dit wen. Frankryk moet sekerlik die gunstelinge wees, maar die All Blacks is goed op dreef. Die Springbokke weet hoe om groot wedstryde te wen en die Iere is tans die beste span in die wêreld. As ek geld moet waag, sou dit Frankryk wees.”

Carl se antwoord is egter baie eenvoudig. “Die Bokke!”

You need to be Logged In to leave a comment.