Die tuin van Huis Horison in Stellenbosch pronk nou met 50 nuwe bome danksy ’n skenking van InteliGro. Die bome is op Boomplantdag (Donderdag 1 September) by die tehuis in Onder-Papegaaiberg geplant.
Volgens Elzabi van Wyk, die bestuurder van ontwikkeling by Huis Horison, het die InteliGro- en Huis Horison-span verlede week hul kragte saamgespan om die bome te plant. InteliGro sal altesaam 157 bome aan die organisasie skenk.
“Dit was ’n heerlike middag en die span het vinnig en geesdriftig gewerk,” het Van Wyk gesê.
“Huis Horison het ’n visie om meer bome op ons terrein te plant. Dit maak die omgewing groener en mooier, maar meer belangrik, gee dit Huis Horison se intellektueel gestremde inwoners en dagwerkers die geleentheid om die terapeutiese voordele daarvan te ervaar, en ’n noue verbintenis met die natuur te beleef.”
Van Wyk het bygevoeg dat die natuur, veral bome, deel vorm van die sentrum se oorhoofse Ekoterapie-program, wat die basis van sy terapeutiese programme vorm.
“InteliGro se skenking word op drie plekke aangewend: vrugtebome wat geplant word by die kermis-gebied en mettertyd vrugte en neute sal dra wat deur ons inwoners geoes en geniet kan word; inheemse “woud” langs die boonste stappad; en ook drie groot rooi essehoutbome wat in die sentrale binnehof geplant is, en in die toekomstige somers aan ons inwoners ’n gesellige koel skaduwee sal bied,” het Van Wyk verduidelik.
“Ons glo dat ons vrugtebome en ‘woud’ nou mooi sal groei, en nog jare se plesier aan almal by Huis Horison sal bied. Ons wil baie graag vir InteliGro hartlik vir die skenking van 157 bome bedank.”
Sy het verder verduidelik dat InteliGro se betrokkenheid by die sentrum bydra tot die doelwit om vir Huis Horison-sorggroep te sorg en ontwikkel “tot die beste van hul vermoë, deur vir hulle ’n sinvolle, vervulde en menswaardige lewe te bied. Dit is ook deel van ons intrinsieke waardes om die omgewing vir die gemeenskap en die planeet te bewaar en te verbeter.”
Huis Horison bied nog geleenthede vir bome plant, en verwelkom enige skenkings van bome. Stuur gerus e-pos aan bemarking@huishorison.org.za om betrokke te raak.