By die Bosberaad 2022 was (van links) Etienne Basson (Ida’s Valley Community Trails), Ernst Gouws (Stellenbosch Trail Fund), Annemarie Ferns (raadslid), Dawid Botha (Stellenbosch Fietsry), Eon Hendrickse (Ida’s Valley Community Trails) en Luke van Wyk (Stellenbosch Fietsry). Foto: Isabella le Roux


“Stellenbosch moet sy wêreldklas-fietsplan uitvoer en internasionaal bekend maak, dan sal besoekers aan die dorp agtvoudig toeneem.”

Só het Dave Pepler, die genooide spreker by die Bosfietsberaad 2022 van Stellenbosch Fietsry en die Stellenbbosch Trail Fund Woensdagaand by die Neil Ellis-wynkelder aan die Helshoogtepas buite Stellenbosch gesê.

Pepler het ook van sy ervaring as fietsryer sedert 1974 in Stellenbosch gedeel. “Jou sig, reuk en gehoor is soveel meer as in ’n motor. Wanneer ek deur Idasvallei huis toe trap, weet ek wie maak biryani en wie bak vis. As ek in lande in Afrika reis en sy gaste vra wat ek nodig het, antwoord ek: ’n fiets.”

Hy praat met sy vriende om hulle aan te moedig om te begin fietsry. “Elke mens wat ek oortuig om te begin fietsry, word ’n eiland, en namate mense mekaar aanmoedig om te begin fietsry, word hulle ’n vasteland. Uiteindelik word dit ’n kultuur van mense wat dinge anders doen.”

Volgens Pepler sal fietsryers ’n morele inslag hê om aan te dring op veilige fietsbane in die dorp as hulle die wette gehoorsaam. “Fietsryers moet wys hulle is wetsgehoorsaam.”

Van die deelnemers aan die beraad het die volgende kommentaar gelewer:

Raino Bolz – “Ons moet kinders aanmoedig om fiets te ry skool toe.”

Annemarie Ferns – “Die bevordering van fietsry moet deurentyd op die Burgemeester-Rektorsforum bespreek word.”

Ernst Gouws – “Waarom is daar nie meer fietsbane in die dorp nie?”

Gawie Groenewald – “Geverfde fietsbane, al is dit nie veilig nie, maak motorbestuurders meer bewus van fietsryers. Daar behoort toesluitgeriewe (Nederlands: fiets stallings) oral in die dorp te wees sodat fietsryers hul fietse veilig kan wegsluit.”

Conrad Stolz – “Kerkstraat se parkering vir motors moet verminder word.”

Die aanwesiges het ooreengestem dat voortgegaan moet word om met mekaar te kommunikeer en hulle moet oor ’n jaar weer vergader om te evalueer wat gedoen is om fietsry te bevorder.

You need to be Logged In to leave a comment.