Die storm om die Botmaskop- ontwikkeling teen die hange van Stellenbosch wil net nie bedaar nie.

In die jongste wending het die CapeXit-party ‘n strafregtelike klagte teen die Stellenbosch-munisipaliteit en die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, ingedien oor wat die party ‘n “omgewingsmisdaad” noem.

“Ons het gevind die Stellenbosch-munisipaliteit het na bewering ‘n ontwikkelaar op Botmaskop toegelaat om munisipale grond te betree – munisipale grond wat staatsgrond is.

”Deur dit te doen, het die ontwikkelaar na bewering magtiging ontvang om die munisipale grond te ontwikkel,” verduidelik Leon Lourens, die hoof van die omgewingsportefeuljekomitee van die CapeXit-party.

Lourens en die Kaapstadse raadslid Karl Bodin het Donderdag 16 Oktober die klagte by die Stellebosch-polisie aangemeld.

LEES OOK: CapeXit verkla Stellenbosch-munisipaliteit oor Botmaskop

Werk aan die omstrede Botmaskop-ontwikkeling is vir eers gestaak.
Werk aan die omstrede Botmaskop-ontwikkeling is vir eers gestaak.

Die party voer aan paaie, ‘n heining en water-infrastruktuur is op erf 187020 en die aangrensende munisipale grond, erwe 333 en 3363, aangebring. Hierdie konstruksiewerk is glo onwettig aangesien dit deel van die Kaapse Wynland Biosfeerreservaat en ‘n verklaarde berg-opvangsgebied is.

Lourens het by navraag gesê die beweerde oortredings is ernstig genoeg dat die party dit goedgedink het om ‘n straf- regtelike klagte aan te meld.

“Die munisipaliteit is getaak om die omgewings te bestuur – veral daar waar bedreigde spesies voorkom,” sê Lourens.

“Daarom moet ondersoek ingestel word om te bepaal hoekom hy na bewering toegelaat het dat die ontwikkelaars die grond ontwikkel. Dit lyk asof die nodige ‘huiswerk’ nie [behoorlik] deur die munisipaliteit gedoen is nie.”

Die klagte wat CapeXit teen Mettler gebring het, is ten opsigte van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998; die Nasionale Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit (NEMBA), 2004; die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne; en die Wet op Omgewingsbewaring, 1989.

By navraag het die Stellenbosch-munisipaliteit gesê hy is bewus van CapeXit se optrede.

“Die munisipaliteit sien dit eenvoudig as ‘n manier om politieke punte aan te teken,” sê Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder. Hy sê ook geen verdere kommentaar sal verskaf word nie, aangesien die saak nou in die hof is.

Bouwerk aan die landgoed is vroeër vanjaar stopgesit nadat die Stellenbosch-belangegroep ‘n dringende aansoek voor die Kaapse hooggeregshof gebring het.

LEES OOK: ‘Geen verdere werk aan Botmaskop’

Leon Lourens, hoof van die omgewingsportefeuljekomitee van die Capexit-party, en Kaapstadse raadslid Karl Bodin.
Leon Lourens, hoof van die omgewingsportefeuljekomitee van die Capexit-party, en Kaapstadse raadslid Karl Bodin.

Regter Melanie Holderness het in April ‘n tussentydse interduk toegestaan en die betrokke partye verbied “om enige konstruksie, bouwerk of ander werk by Botmaskop met betrekking tot die ontwikkeling van ‘n residensiële landgoed te onderneem of voort te gaan”.

Dit terwyl die belangegroep se hersieningsaansoek vir die projek se omgewingsgoedkeuring oorweeg word.

Ten tye van Holderness se uitspraak het konstruksiewerk vir munisipale dienste en ander infrastruktuur reeds plaasgevind.

Volgens die hofdokumente beskou die ontwikkelaars die landgoed van 73 eenhede as erwe wat “ten volle ontwikkel is”, met ander woorde die grond kan nie herstel word soos dit voorheen was nie.

Die hele ontwikkeling is vir 77 eenhede goedgekeur.

Op ‘n bespreking oor die Botmaskop-ontwikkeling by die Toyota Stellenbosch Woordfees wou talle Stellenbossers steeds weet hoe die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings-beplanning goedkeuring vir die residentiële ontwikkeling uitgereik het.

Die gesprek is deur Kabous Meiring gelei.

Hoewel verskeie partye vir die bespreking genader is, was slegs die plaaslike plantkundige dr. Brian du Preez bereid om op die paneel te sit. Du Preez sê hy het simpatie vir die teenkanting wat die ontwikkelaars ontvang.

Hy meen die ekologiese gevolge vir Botmaskop moet egter nie onderskat word nie.

Handré Basson, ‘n mede-ontwikkelaar van Botmaskop, bieg hulle sit met die hande in die hare terwyl gewag word vir die departement en die munisipaliteit om die nodige dokumente en bewyse aan die hof te verskaf. Hy meen die vertraging van die projek “val die belangrikste reg in Suid-Afrika – eiendomsreg – aan”.

“Ons [kopers] het huis verkoop in Johannesburg, gesinne afgeskuif, [hul kinders] in skole ingeskryf en huis begin bou, want hulle trek in [by Botmaskop],” het hy verduidelik.

Volgens Basson is 28 eiendomme oorgedra, met feitlik die helfte van die eienaars wat in Stellenbosch in huurhuise woon.

You need to be Logged In to leave a comment.