Botsing op Wemmershoekpad eis jong ouers

’n Maand nadat twee jong pa’s op die R301 (Wemmershoekpad) gesterf het nadat hul voertuie reg van voor gebots het, het ’n soortgelyke botsing die verlede naweek op dieselfde pad gebeur en dié keer die lewe van ’n jong ouerpaar geëis het.


’n Maand nadat twee jong pa’s op die R301 (Wemmershoekpad) gesterf het nadat hul voertuie reg van voor gebots het, het ’n soortgelyke botsing die verlede naweek op dieselfde pad gebeur en dié keer die lewe van ’n jong ouerpaar geëis het.

Wayneze Davids (23) en Cedwin Sono (29) is dood nadat hulle die aand van Sondag 24 Maart in die botsing betrokke was. ’n Sportnutsvoertuig (SUV) en ’n Nissan-bakkie het reg van voor gebots. Davids is ’n eerstejaar- maatskaplike student aan Hugenote Kollege, en Sono is van Franschhoek. Die paartjie het ’n driejarige seuntjie saam.

Die ongeluk het naby die Val de Vie-afrit gebeur.

Die Drakenstein-plaaswag (DFW) was op die toneel sowel as verskeie ambulansdienste en die plaaslike polisie en verkeersdienste. Die presiese oorsaak van die botsing is steeds nie duidelik nie.

Wayneze Davids en Cedwin Sono

Volgens inligting van die DFW is vier mense in die ongeluk beseer, terwyl een mens op die toneel dood verklaar is.

“Die voorval is by die DFW-noodbeheerkamer aangemeld aangesien dit pas gebeur het en ’n duidelike maar grusame beskrywing is van die toneel en beserings gegee.

“Dit was duidelik dat verskeie pasiënte in ’n baie slegte toestand was en verskeie dissiplines van reddingsdienste was nodig. Die DFW-beheerder, wat gebruik word om hierdie komplekse situasies te hanteer, het al die nodige dienste begin bel, terwyl die DFW se reaksiepersoneel hulle na die toneel gehaas het.

“Op die toneel is die talle pasiënte deur noodpersoneel behandel en uiteindelik in drie ambulanse gelaai (ER24, EMS Metro en Titanium). Ons simpatie gaan aan die familie van die oorledenes en beseerdes.”

Kol. Zithulele Xela, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het by navraag gesê die botsing het omstreeks 19:50 gebeur. Hy het bevestig dat Sono op die toneel gesterf het. Davids het later in ’n plaaslike hospitaal aan haar wonde beswyk.

Xela het verder bevestig dat ’n strafbaremanslag-saak geopen is en tans ondersoek word.

Eikestadnuus het uitgereik na die families, maar het teen druktyd geen terugvoering ontvang nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.