AfriForum Jeug hou eerskomende Saterdag (15 Februarie) ’n Raakrugbydag by die Middelvlei-wynplaas om die nuwe akademiese jaar op ’n hoë en aktiewe noot in te lui.
Mans en vroue tussen 18 en 30 jaar oud kan spanne inskryf en kragte meet om te bepaal wie Saterdag met die R10 000-prysgeld gaan wegstap.
Inskrywings is reeds oop.
Vir diegene wat nie raakrugby-fiks is nie, is ondersteunerskaartjies te koop.
’n Geesbeker-prys van R2 000 is ook op die spel.
Dié dag word in samewerking met Studenteplein, Middelvlei-wynplaas, Stellies Blue Bottle Liquors en Nu’Bar aangebied.
Benewens die hoofprys is R8 000 ook vir die span in die tweede plek en R5 000 vir die span in die derde plek beskikbaar.
Nog R5 000 is op die spel vir die koshuis wat die meeste ondersteunerskaartjies verkoop.
Toeskouers kan ook lekker pryse losslaan.
Die jeugorganisasie beoog om die Raakrugbydag ’n jaarlikse instelling te maak en sodoende ’n veilige bymekaarkomplek vir veral studente te skep om pret te hê en heerlik saam met vriende en medestudente te kuier.
In die gees van verantwoordelike, veilige joligheid het AfriForum Jeug ook pendeldienste wat tussen Victoriastraat en Middelvlei-wynplaas sal ry.
Kosstalletjies sal ook beskikbaar wees en selfs stalletjies met ’n bietjie voggies vir ’n droë keel.
“Selfs by die Tuks-tak is ons vol bewondering vir Maties se Raakrugbydag – die verwagting alleen is genoeg om enigeen opgewonde te maak. Van ons gaan selfs al die pad van Tukkies af kom om dié dag te beleef,” sê Maree van den Berg, voorsitter van AfriForum Jeug se Tuks-tak.
“’n Groot leemte heers onder die Maties-studente om in ’n veilige omgewing sosiaal te verkeer. Buiten Studenteplein is daar nie veel ander instellings wat studente se belange op die hart dra nie.
“Daarom het AfriForum Jeug besluit om hierdie Raakrugbydag in samewerking met ander rolspelers te vestig. Die doel is om hierdie as ’n tradisie op kampus en onder die studente te vestig,” sê Yvonne Gerber, die lid vir jeugontwikkeling by AfriForum Jeug.