Die 26 nuwe brandbestryders by hul gradueringseremonie wat by die opleidingsakademie van die KWDM se branddienste in Stellenbosch gehou is.

Credit: SYSTEM

Die uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), dr. Elna von Schlicht, het onlangs 26 nuwe brandbestryders by die gradueringseremonie, wat by die opleidingsaka­demie van die KWDM se branddienste in Stellen­bosch gehou is, gesalueer.

“Selfs voor opleiding moes elkeen ingebore eienskappe hê wat julle in staat stel om ’n brandweerpersoon te word. Gedurende opleiding word hierdie eienskappe geslyp en verbeter.

“Hierdie eienskappe, toewyding, dapperheid, onbaatsugtig­heid en integriteit is nou deel van jul onwrikbare karakter,” het Von Schlicht in haar toespraak gesê.

Die KWDM se opleidingsakademie het die nuutste gradeerders van die Brandbestryding I- en II-modules met trots by ’n formele seremonie, wat ’n indrukwekkende dril-peloton ingesluit het, aangekondig.

Die topstudente is van links: Heinrich Snyman (Langeberg-munisipaliteit, top-teoriestudent), Aaliyah Abrahams (Stellenbosch-munisipaliteit, mees toegewyde student), Seaman Kevin Maswati (beste praktiese student) en Adrian Ferrier (KWDM-brandweerdienste, beste vordering).

Hierdie toegewyde brandbestryders, wat die Suid-Afrikaanse Vloot en die Kaapse Wynland-distriks-, Swartland- en Langeberg-munisipaliteite verteenwoordig, het ’n intensiewe 12 weke lange opleidingsprogram voltooi om te kwalifiseer.

Die opleidingsprogram omvat beide teoretiese en praktiese aspekte, waarvan die fisieke komponent dikwels die mees veeleisende is.

“Toe ons begin het, het dit gevoel asof sukses buite ons bereik was. Ons het individueel gesukkel, maar toe ons as ’n span saamkom, het ons motivering in mekaar gevind, wat selfs die mees uitdagende take haalbaar gemaak het!” het die KWDM-brandweerman Junaid Rass in sy huldeblyk gedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.