Brandbestryders in Stellenbosch verlede Woensdag (4 Desember) waar brandbestryders sterk.


Meer as 2 000 brandbestryders sal hierdie brandseisoen byderhand wees om brande te blus.

Dít is verlede Woensdag (4 Desember) deur Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings­beplanning, tydens die bekendstelling van planne vir die somer se brandseisoen, in Stellenbosch aangekondig.

Altesaam 2 300 professionele en gekontrakteerde brandbestryders word deur 24 lugvaart-hulpbronne bygestaan, wat helikopters en waterbomwerpers insluit.

“Die provinsiale regering het ’n lugsteunbegroting van R15 miljoen om saam met grondspanne te werk om op brande tydens die somermaande wat voorlê, te reageer. Hierdie bedrag sluit nie lugsteunbegrotings uit die verskillende distrikte en die Stad Kaapstad in nie,” het Bredell gesê.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, die Stad Kaapstad en die provinsiale departement se hulpbronne sal waar nodig gesamentlik ingespan word en almal is vir veldbrande op bystand.

Volgens Bredell is die provinsie veral vatbaar vir brande, gegewe die toename van plantegroei ná die goeie reënseisoen die afgelope winter.

Hy verduidelik alle plantegroei behou ’n brandgevaar in, veral met die droë, warm en winderige weer wat nou heers.

“Hierdie seisoen sal ons ook nou saam met nuwe vennote, soos die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en Lifesaving Wes-Kaap, werk om ons vermoë te versterk om op alle soorte gevare te reageer, hetsy brande, oorstromings of noodgevalle ter see.”

Wat water-noodgevalle betref, het die Wes-Kaapse provinsiale rampbestuursentrum R391 000 opsygesit om te verseker die lewensreddingsdienste van Lifesaving Wes-Kaap en die NSRI is beskikbaar wanneer dit nodig is.

’n Bykomende R3 miljoen kom uit die departement van plaaslike regering se aangepaste begroting vir enige water-verwante noodgevalle in die provinsie.

Vennootskap is uiters belangrik vir die bestryding van brande en Bredell het die brandbestryders van die departement, die distriksmunisipaliteite, CapeNature, SanParke, Working on Fire (WoF) en brandvoorkomingsorganisasies en vrywilligers vir hul ondersteuning tydens die brandseisoen bedank.

“Ek wil al die dapper brandbestryders en noodwerkers, wat gereed is om ons gemeenskappe te beskerm, bedank. Jul toewyding speel ’n sleutelrol om ons provinsie veilig te hou,” sê Bredell.

WoF het op sy beurt gesê hy is hierdie somer gereed om hand by te sit waar nodig. “Ons is trots om een ??van die sleutelrolspelers by die bekendstelling van die planne vir die somerbrandseisoen in Stellenbosch te wees, wat ons verbintenis tot die beveiliging van lewens, eiendom en die omgewing ten toon gestel het,” sê die organisasie.

“Ons is met ons spanne, moderne hulpbronne en jare se ondervinding gereed om enige uitdagings wat hierdie seisoen kan meebring, aan te pak.”

You need to be Logged In to leave a comment.