Dit sit nie in enigeen se broek om vlamme en brande te bestry nie, maar die manne en vroue wat dié werk doen, is Dinsdag (30 April) vir hul werk vereer.
“Dit is nie maklik nie, maar ek sal dit doen vir so lank as wat ek kan. In die streek brand plantegroei die vinnigste – dan kry jy vlamme van twee tot drie meter hoog,” vertel die brandweerman Jerret Mandlake (58).
Mandlake was deel van die 240 brandbestryders wat veldbrande beveg en wie se harde werk die afgelope brandseisoen vandeesweek by die Jonkershoek-natuurreservaat gevier is.
Met die hulp van vennote het die brandbestryders die afgelope seisoen infrastruktuur, biodiversiteit en lewens gered van vlamme oor die provinsie heen.
“Not all heroes wear capes, want soms dra hulle brandweerpakke,” het Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, gesê.
Duisende hektaar – van die Wynlande tot die Weskus – het die afgelope jaar gebrand en is feitlik daagliks deur helde soos Mandlake bestry.
Dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature, sê die toewyding wat brandbestryders vir hul werk het, is merkwaardig. Om berge en bosse alle ure van die dag en nag in te vaar en 24 uur lange skofte aan te durf, sit nie in enigeen se broek nie.
Die afgelope brandseisoen was van die ergstes in onlangse jare, met 185 000 ha wat net in een voorval gebrand het.
“Ten spyte van die moeilike brandseisoen is daar ’n ligpunt – ons het geen lewensverlies gehad nie. Dit is besonders en spreek tot die uitmuntende werk wat julle gedoen het,” het Bredell gesê.
Onder die brandbestryders by die geleentheid was Geralda van der Merwe (28) en Amber Saas (20) van Mamre. Dié twee het verlede Welwillendheidsdag ’n brand in Ganzekraal naby Mamre help blus.
“Dit is vreesaanjaend om die donker in te gaan met net ’n koplig en jou span, maar dit is ons passie,” sê Saas.
Hulle is deel van die brandweerspan by CapeNature se Ganzekraal-reservaat en hoop om uiteindelik volwaardige brandweervroue te word.
CapeNature het sy talle vennote vir hul bystand bedank, waaronder die distriksmunisipaliteite van die Overberg, Weskus en Kaapse Wynlande, Werk met Vuur en die bedryfspersoneel wat dit vir brandbestryders moontlik maak om hul werk te doen.