Brande saai verwoesting op perdeplase

Die stormweer wat die Kaapse Wynlande die afgelope naweek ervaar het, het vermoedelik verskeie brande veroorsaak, insluitend by perdestalle en perdeskuilings.


Die stormweer wat die Kaapse Wynlande die afgelope naweek ervaar het, het vermoedelik verskeie brande veroorsaak, insluitend by perdestalle en perdeskuilings.

Die Alpha Equestrian op die Keerweder-pad in Klein Drakenstein buite Paarl het tot op die grond afgebrand, terwyl die Silvermist Equestrian Centre en die Waarburg-plaas langs die R304, beide ’n klipgooi van Giraffe House, ook gedeeltelik afgebrand het.

Ander perdestalle sluit in Just Horses naby aan die Silvermist Equestrian Centre wat ook groot skade opgedoen het.

Al dié brande het die afgelope Saterdagaand (6 April) plaasgevind.

Volgens Haley Starke, eiendomsbestuurder vir Stellenbosch Bridge Properties asook ’n lid van die Klapmuts Farm Watch wat by die Silvermist-perdestalle en Waarburg-plaas se brande gehelp het, het brande oor die naweek oor die hele vallei opgeduik.

“Ons [ek en my dogters] het sowat 22:15 na die R304 beweeg om te kyk of ons [met die brande] kon help,” verduidelik Starke – dít nadat sy ’n oproep ontvang het van twee brande in daardie omgewing.

Silvermist Equestrian Centre

“Ek het geweet daar is ’n perdeplaas in die lyn van die vuur, dus het ons gegaan om hulle te help. Die eienaar van die Silvermist Equestrian Centre was reeds besig met ontruiming en ek het haar bygestaan ??om dinge aan die gang te kry,” sê Starke.

Kort daarna het ’n Choice Carrier- perdesleepwa-maatskappy opgedaag om die perde na ’n veilige plek te vervoer.

“Ek het hulle net gehelp om te begin, en toe beweeg ek na die vuur rondom die geboue en [Waarburg]-plaas,” vertel Starke.

Volgens Nika Rainsford, eienaar van Silvermist Equestrian Centre, is geen perd of mens beseer nie, en kon sy, danksy die gemeenskap se hulp, insluitend Mistico, wat die 32 perde van Silvermist gehuisves het terwyl die brand geblus is, die plaas red.

Waarburg-plaas

Starke het ook ’n helpende hand bygesit op die Waarburg-plaas nadat sy klaar was by die Silvermist Equestrian Centre.

“Die perde en volstruise was omring deur die brand en moes met baie min kennisgewing ontruim word. Ek en ander bure het gehelp om heinings te knip en die perde en volstruise uit die pad van die brand te jaag,” sê Starke.

Alpha Equestrian

Die Alpha Equestrian-perdestalle het grootskaalse skade opgedoen toe ’n verwoestende brand ook die afgelope Saterdagaand daar begin het.

Eikestadnuus het telefonies by die Alpha Equestrian probeer navraag doen, maar kon niemand vir kommentaar bereik nie.

Die oorsaak van al dié verwoestende brande is nog nie vasgestel nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.