’n Brandbestryder van die Stellenbosch-branddienste besig om die veldbrand wat hierdie week in Onder Papegaaiberg uitgebreek het, te blus. Foto: Francois Lombard


Brandbestryders van die Stellenbosch-munisipaliteit is die afgelope week besig gehou, met verskeie brande wat in die gebied uitgebreek het.

Die munisipale woordvoerder Stuart Grobbelaar het gesê brandbestryders van die Stellenbosch-brandweerdienste het sedert die begin van die jaarlikse brandseisoen in November verlede jaar (2023) al op byna 600 brande gereageer.

Terwyl hierdie week se brandbestrydingspogings verseker het dat geen skade deur twee veldbrande in die Onder-Papegaaiberg-gebied aan eiendomme veroorsaak is nie, was ongeveer 300 inwoners van Khayamandi nie so gelukkig nie, aangesien hul huise heeltemal deur ’n brand verlede Woensdag (24 Januarie) in die vroeë oggendure verwoes is.

Brandweerdienste het om 01:20 op die brand gereageer nadat hulle ’n noodoproep ontvang het oor strukture wat in die informele nedersetting brand. “Altesaam 21 brandweermanne in sewe brandbestrydingsvoertuie het daarin geslaag om die brand kort ná 07:00 te blus,” het Grobbelaar gesê.

“Voorlopige aanduidings is dat ongeveer 300 mense geraak en ongeveer 95 strukture vernietig is. Munisipale amptenare was op die toneel om ramphulp aan die brandslagoffers te verskaf. Geen beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand is onbepaald en sal ondersoek word.”

Die mees onlangse voorval in Onder- Papegaaiberg het Maandagmiddag (29 Januarie) plaasgevind toe die Stellenbosch-brandweerdienste om 14:30 ’n noodoproep gekry het oor plantegroei wat in dié gebied aan die brand was.

“Tien brandbestrydingsvoertuie is deur die middag en aand na die toneel ontplooi. Die aanvanklike twee voertuie het binne 10 minute vandat die brand aangemeld is, op die toneel aangekom,” het Grobbelaar gesê.

“Die brand is suksesvol in bedwang gebring en laat in die aand geblus. Teen omstreeks 23:00 het die meeste van die span na die stasie teruggekeer.”

Die oorsaak van die brand word tans ondersoek en geen ernstige beserings is aangemeld nie. Munisipale skoonmaakspanne het Dinsdagoggend (30 Januarie) opruimings- en skoonmaak-operasies op die R310 en die omliggende gebied uitgevoer.

Verder het brandweermanne ’n veldbrand, wat naby die begraafplaas in Onder-Papegaaiberg op die aand van Dinsdag 24 Januarie uitgebreek het, geblus. Wind het egter die volgende aand ’n paar opvlamme veroorsaak en Grobbelaar het bevestig brandweermanne het na die toneel teruggekeer om die brand te bestry. Dit is uiteindelik onder beheer gebring en daardie aand geblus.

You need to be Logged In to leave a comment.